|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Soek jy 'n staatmakerresep vir die volgende basaar, markdag of koekverkoping by die skool? Hier is 'n paar beproefdes - elkeen maklik om te maak en met 'n lang rakleeftyd buite die yskas.
Dubbeldoor-malvakoekies
Hierdie koekies is meer 'n idee as 'n resep, maar jy kan menige goedkoop lekkerny met gesmelte malvalekkers optower. Versier die bokante van dié koekies met lekkergoed of spuit patrone daarop met versiersuiker.
2 pakke mariebeskuitjies
1 groot pak wit en pienk malvalekkers
250 ml versiersuiker
Paar druppels water of suurlemoensap
Voedselkleursel
Lekkers en kleursprinkels
Pak vier mariebeskuitjies op 'n slag op 'n plat bord en sit 'n malvalekker in die middel bo-op elke koekie neer. Sit in die mikrogolfoond. Werk versigtig sodat die malvalekkers nie skuif nie. Mikrogolf vir ongeveer 5 sekondes (die tyd sal afhang van die krag van jou mikrogolf) tot die malvalekkers op die koekies hoog uitgepof is. Hou nog vier mariebeskuitjies gereed. Maak die deur van die mikrogolfoond oop en sit die vier koekies versigtig bo-op die opgepofte lekkers neer. Moenie hard druk nie, want die gesmelte malvalekkers sal dan uitloop. Haal uit die mikrogolfoond en laat afkoel tot heeltemal ferm. Herhaal dié proses met die helfte van die malvalekkers en koekies. As dit alles klaar is, en die eerste lot is afgekoel en ferm, maak die dubbeldore. Pak weer vier mariebeskuitjies op 'n slag op 'n plat bord en sit 'n malvalekker in die middel bo-op elke koekie neer. Mikrogolf weer vir sowat 5 sekondes tot opgepof. Neem nou elke koekie uit die mikrogolf en sit dit bo-op 'n afgekoelde, gevulde koekie neer (met die malvalekker-kant na onder). Moenie hard druk nie, maar laat koel net so af. Herhaal met die res van die beskuitjies en lekkers.
Sodra die koud is, maak 'n smeerbare versiersel aan met versiersuiker en water (of suurlemoensap) en kleur na smaak. Versier die koekies bo-op daarmee en laat staan tot hard. Lewer sowat 20 dubbeldore.
Beskuitjie-fudge
Altyd 'n gunsteling!
200 g margarien
520 g (4 k) gesifte versiersuiker
75 ml kakao, gesif
2 eiers
1 pakkie (250 g) mariebeskuitjies, grof gekrummel
Smeer 'n plat pan met botter en voer uit met waspapier. Smeer weer. Smelt die margarien en voeg die versiersuiker en kakao by. Roer tot glad, verwyder van die hitte en klits die eiers een vir een by. Roer growwe stukkies mariebeskuitjie by tot goed gemeng. Keer uit in die voorbereide pan en maak gelyk. Laat afkoel en sny in blokkies sodra ferm. Lewer 40 blokkies.
Pynappel-wortelkoekies met karamelkondensmelk
310 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
2 ml koeksoda
2 ml sout
3 ml kaneel
250 ml suiker
180 ml olie
2 groot eiers
375 ml fyngerasperde wortel
60 ml geblikte fyn pynappel, goed gedreineer
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n muffinpan met 12 holftes met papierkoppies uit. Meng die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en kaneel saam in 'n mengbak en hou eenkant. Klits die suiker en olie goed saam en voeg die eiers een vir een by. Klits goed ná elke byvoeging. Voeg nou die droë bestanddele, wortels en pynappel by en roer tot net gemeng. Verdeel die beslag tussen die papierkoppies en bak vir ongeveer 25 minute tot gaar. Haal uit die panne en laat koel af op 'n draadrak. (Moenie in die pan laat afkoel nie, die papierkoppies sal van die koekies lostrek.) Sodra afgekoel, smeer elke bokant met ongeveer twee eetlepels karamelkondensmelk. Lewer 12 koekies.
Griekse broskoekies
Hierdie koekies smelt in die mond en hou lank mits dit in 'n lugdigte houer gebêre word. Die geur is onverbeterlik as dit met regte botter gemaak word, maar as jy wil wins maak hieruit, gebruik dan volvet-bakmargarien.
225 g sagte botter of bakmargarien
80 ml gesifte versiersuiker
5 ml vanieljegeursel
15 ml brandewyn
560 ml koekmeel
Ekstra versiersuiker
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n paar bakplate met bakpapier uit. Klits die botter goed tot lig en romerig. Sif die versiersuiker oor en voeg die vanieljegeursel en brandewyn by. Klits goed. Voeg die meel in vier lotte by en maak aan tot 'n sagte deeg. Verkoel die deeg tot dit ferm genoeg is om met die hand te vorm. Rol bolletjies en sit op die bakplate. Gebruik die bokant van 'n tafelmes se lem en maak 'n kruis bo-op elke bol deeg terwyl jy dit effens plat druk. Bak vir ongeveer 20 minute tot 'n ligte strooisuiker. Sif 'n dik laag versiersuiker op 'n groot vel bak- of ongedrukte koerantpapier en rol die koekies daarin. Laat in die versiersuiker afkoel en bêre in 'n lugdigte houer wanneer koud. Lewer ongeveer sewe dosyn koekies.
Landbouweekblad, 13 April 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24