Maalvleisvulsel
30 ml olyfolie
2 uie, baie fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
500 g beesmaalvleis
1 x 410 g blik tamatiepuree
30 ml tamatiepasta
180 ml beesvleisaftreksel
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Kaassous
80 g botter
80 ml koekmeel
750 ml volroommelk
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
125 ml gerasperde cheddarkaas
8-10 voorbereide pannekoeke
Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die olyfolie in ’n groot pot en braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die maalvleis by en braai tot bruin. Voeg die tamatiepuree, -pasta, aftreksel, sout en peper by en verhit tot kookpunt. Prut tot goed afgekook.
Vir die kaassous: Smelt die botter in ’n pot en voeg die meel by. Verhit tot dit borrel en voeg die melk bietjie vir bietjie by, terwyl aanhoudend geroer word. Verhit tot kookpunt en prut, terwyl geroer word, vir 2-3 minute. Geur na smaak. Verwyder van die hitte en roer die kaas by.
Skep ’n groot porsie van die maalvleisvulsel in die middel van elke pannekoek en rol toe. Pak die gevulde pannekoek in ’n gesmeerde oondbak en skep die kaassous oor. Bak vir 30 minute tot goudbruin. Sit voor met ’n groen slaai.
Lewer 8-10 porsies.
Landbouweekblad, 20 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)