Die Turke en Grieke sê mekaar glo oor en weer sleg oor dié hemelse neute-en-filodeeg-nagereg, want albei maak aanspraak daarop dat dit van hulle afkomstig is. Wie dit ook al uitgedink het – ek is net bly hulle het die resep die res van die wêreld ingestuur. ’n Wenk – soek vir jou ’n oondpan waarin ’n vel filodeeg netjies pas sodat jy nie deeg hoef te meet of sny nie.
Stroop
1 groot suurlemoen
500 ml (2 k) witsuiker
160 ml (2/3 k) water
2 kaneelstokke
180 ml (¾ k) heuning
Vulsel
500 g ongesoute neute van jou keuse
(ons het amandels, makadamias en
pistasieneute gebruik)
60 ml (¼ k) strooisuiker
10 ml (2 t) fyn kaneel
½ pak (250 g) filodeeg
Sowat 180 ml (¾ k) gesmelte botter
Stroop: Rasper die skil van die suurlemoen fyn af en hou eenkant. Druk die suurlemoen se sap uit en verhit dit, saam met die res van die bestanddele vir die stroop, oor lae hitte. Roer gereeld, tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook vinnig vir 10 minute. Laat afkoel tot kamertemperatuur en haal die kaneelstokke uit.
Vulsel: Kap die neute baie fyn en meng met die fyngerasperde suurlemoenskil, strooisuiker en kaneel. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak (waarin ’n vel filodeeg netjies pas) met gesmelte botter. Lê ’n vel filodeeg op die werksoppervlak neer en verf met ’n dun lagie gesmelte botter. Sit nóg ’n vel deeg presies bo-op neer en smeer weer met gesmelte botter. Sit die dubbele laag deeg in die oondbak. Sprinkel ’n dun lagie van die vulsel oor en volg weer met ’n dubbele laag bottergesmeerde filodeeg. Herhaal die proses en hou die lagies dun, tot die neute of deeg opgebruik is (eindig met ’n laag deeg). Smeer bo-op ook met gesmelte botter. Neem ’n skerp toetspen of stukkie draad en druk ’n paar gaatjies van bo af dwarsdeur die baklava. Bak vir sowat 35 minute, tot goudbruin. Sodra dit uit die oond kom, skep die stroop oor. Maak seker dit trek oral goed in en loop in al die gaatjies. Laat afkoel tot kamertemperatuur en bedek goed tot wanneer benodig. Sny in skywe of blokkies en sit voor met sterk koffie.
Lewer sowat 30 porsies.
Landbouweekblad, 26 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)