Hoender-en-sampioen-pasteie

Individuele hoender-en-sampioen-pasteie. Foto: NEVILLE LOCKHART
Individuele hoender-en-sampioen-pasteie. Foto: NEVILLE LOCKHART

Bestanddele

2 x 400 g rolle reg-om-te-gebruik skilferkorsdeeg
1 eier, geklits

Vulsel
1 oondgeroosterde hoender
1 hoenderaftrekselblokkie
45 ml botter
60 ml sjerrie
1 pak (250 g) sampioene, baie fyn gekap
60 ml brandewyn
30 ml koekmeel
250 ml volroommelk
250 ml warm hoenderaftreksel
30 ml heelkorrelmosterd
45 ml vars salie, fyn gekap
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Spuit die holtes van ’n muffinpan goed met kleefwerende kossproei. Rol die een rol skilferkorsdeeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk groot sirkels daaruit. Gebruik die groot sirkels om die holtes van die muffinpan mee uit te voer. Sny die kante gelyk en verkoel tot nodig.

Ontbeen die hoender en vlok die vleis. Druk die aftrekselblokkie met ’n vurk fyn en verhit saam met die botter in ’n kastrol. Voeg die sampioene by en braai vir ’n paar minute. Voeg die sjerrie en brandewyn by, verhit tot kookpunt en prut vir twee minute. Sprinkel die meel oor en verhit tot kookpunt. Voeg die melk en aftreksel by en verhit tot kookpunt, terwyl geroer word. Prut vir vyf minute. Verwyder van die hitte en roer die mosterd, salie, sout en peper by. Giet die sous oor die hoender en meng goed.

Voorverhit die oond tot 220 °C. Rol nou die tweede rol skilferkorsdeeg dun uit. Druk sirkels daaruit (groot genoeg om die bokante van die muffinholtes behoorlik te bedek. Skep die uitgevoerde muffinholtes vol hoendervulsel en sit die deegsirkels boop. Druk die kante vas met ’n vurk. Verf die bokante met geklitste eier en bak vir 20 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C en bak vir nog 15-20 minute, tot goudbruin en gaar. Sit voor met slaai. 

Lewer 10-12 porsies.

Landbouweekblad, 23 Julie 2010
 

Rotasie blok

 
5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.