Ek sorg dat daar altyd ’n pak of twee spekvleis in die vrieskas en geblikte tamaties en bone óf keker-ertjies in my koskas is. Dit red my gereeld as ek voor ’n leë yskas te staan kom of nie weet wat om vir aandete te maak nie. Saam maak dit die heerlikste, geurigste sous waarin jy hoender kan stowe of sommer net so oor pasta of koeskoes kan skep.
1 groot ui, grof gekap
1 x 250 g pak spekvleis, gesnipper
4-6 porsies hoender
10 ml (2 t) olie
60 ml (¼ k) sjerrie
125 ml (½ k) ligte hoenderaftreksel óf water
2 x 410 g blikke tamaties in sap
30 ml (2 E ) tamatiepasta
Sout en vars gemaalde swartpeper
1 x 440 g botterbone, gedreineer en afgespoel
Handvol vars pietersielie, grof gekap
Braai die uie en spek saam tot gaar in ’n pot. Voeg die hoenderporsies en olie by en braai tot bruin. Voeg die sjerrie by en laat opkook terwyl jy alle stukkies wat aan die boom van die pot vassit, losroer. Voeg die aftreksel (of water), tamaties in sap en tamatiepasta by. Geur mildelik met sout en swartpeper en verlaag die hitte. Wanneer die bredie liggies prut, bedek en laat prut vir sowat 45 minute, of tot die hoender sag en gaar is. Voeg die botterbone by en prut oop tot die sous afgekook is. Roer die pietersielie deur en geur na smaak. Sit voor op koeskoes of rys.
Lewer 4-6 porsies.
Landbouweekblad, 19 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)