|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
As jy oor quiche praat is die geykte sêding waar die moontlikhede is
wérklik eindeloos. Want of jy vleis eet of nie, lief is vir iets ryks en romerigs,
of jy dit lig en gesond verkies daar's 'n quiche vir elke smaak.
Met die vulsels kan jy so oordadig wees as wat jou beursie jou toelaat,
of jy kan met net 'n ui en 'n paar takkies kruie regkom.
Hoender-en-mosterdquiche
Broskorsdeeg
200 g koekmeelblom
2 ml sout
100 g botter
60-80 ml yskoue water
Vulsel
300 g hoenderborsies, opgesny
15 ml olie
20 ml Dijon-mosterd
250 g kersietamaties
250 ml koljanderblare, gekap
250 ml room
3 eiers
Sout en peper
Sif die meel en sout saam en verwerk saam met die botter tot krummelrig. Voeg die water by en meng tot 'n sagte deeg. Druk die deeg effens plat, bedek met kleefpapier en verkoel vir 30 minute. Voorverhit die oond tot 200 °C. Braai intussen die hoenderstukkies in verhitte olie tot gaar. Roer mosterd en kersietamaties daarby. Roer vir 'n minuut. Klits die eiers, room en geurmiddels saam. Verwyder die deeg uit yskas en rol dit uit. Voer 'n quichepan van 300 mm of ongeveer 10 klein pannetjies (foto regs onder) met die uitgerolde deeg uit. Blindbak die deeg vir 15 minute. Skep die gebraaide hoender en kersietamaties uit in die tertkors. Giet die roommengsel daaroor en bak teen 180 °C vir 20 minute of tot gaar. Lewer 1 groot quiche.
Tuna-en-aspersiequiche
Kaaskors
200 ml koekmeelblom
60 ml sagte botter
100 ml cheddarkaas, gerasper
'n Knippie sout
5 ml droë mosterdpoeier
Sowat 25 ml koue water
Vulsel
2 blikkies soliedverpakte tuna, gedreineer
1 blik aspersies, gedreineer
Sout en peper
2 eiers
1 eiergeel
150 ml room
50 ml melk
60 ml mosterdgeur-roomkaas (of enige gegeurde roomkaas)
Meng die meel, botter, sout, mosterdpoeier en kaas in voedselverwerker. Voeg 'n bietjie koue water by en meng tot 'n sagte deeg vorm. Druk die deeg uit in 'n quichepan van 22 cm. (Jy kan dit ook liggies uitrol en die quichepan daarmee uitvoer.) Voorverhit die oond tot 200 °C. Blindbak die deeg vir 10 minute. Verlaag dan die temperatuur na 180 °C. Skep tuna en aspersies in die gebakte tertkors en geur met sout en peper. Klits room, eiers, melk en roomkaas saam en giet bo-oor. Bak vir 25 minute tot goudbruin en ferm. Lewer een middelslag quiche.
Vegetariese quiche
Broskorsdeeg
375 ml koekmeelblom
2 ml sout
100 g botter
Sowat 60 ml yskoue water
Vulsel
1 groot ui, in skywe gesny
200 g botterskorsies, geskil en in blokkies gesny
Olyfolie
Sout en peper
200 g spinasie, afgespoel en fyn gekap
2 wiele fetakaas, in blokkies gesny
250 ml room
2 eiergele
2 eiers
200 ml melk
Sif die meel en sout saam in 'n groot mengbak. Vryf die botter in met jou vingerpunte totdat dit soos krummels lyk. Voeg die koue water daarby en sny dit in met 'n mes. Druk die deeg bymekaar en vorm 'n bal. Druk effens platter en bedek met kleefplastiek. Verkoel vir 30 minute sodat dit kan rus. Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas uie en botterskorsie in 'n vuurvaste oondskottel. Bedruip met olie, sout en peper. Oondrooster vir 20 minute. Verhoog die oondtemperatuur tot 200° C. Verwyder die deeg uit die yskas en rol dun uit. Voer 'n diep quichepan daarmee uit. Blindbak vir 15 minute. Verlaag weer die tempeartuur tot 180 °C. Blansjeer die spinasie en hou eenkant. Meng die uie, botterskorsie, spinasie en feta in 'n mengbak en skep die mengsel in die pan. Klits die room, eiers en melk saam. Geur met sout en peper en giet oor die groentemengsel. Bak vir 20 minute of tot ferm. Lewer 1 groot quiche.
Bloukaas-en-chorizoquiche
5 velle filodeeg
60 100 ml gesmelte botter
Vulsel
1 groot ui, gekap
20 ml botter
30 ml olyfolie
3 chorizo-worsies, opgesny
125 g bloukaas, gekrummel
Vars basielkruid
2 eiers
250 ml room
Sout en peper
Smeer elke vel deeg met botter en voer 'n ronde quichepan van 240 mm of hoekige pan (200 mm x 150 mm) uit. Braai die ui in botter en olie tot sag. Voeg die chorizo-wors daarby en braai vir nog 'n minuut. Skep die ui-en-chorizomengsel in die tertkors. Sprinkel die gekrummelde bloukaas en geskeurde basielkruidblare daaroor. Klits die eiers, room, sout en peper saam en giet bo-oor die kaas en worsmengsel. Bak vir 30 minute of tot ferm. Laat effens afkoel en sit voor met ekstra vars basielkruid. Lewer 1 groot quiche.
18 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24