Koppie-en-pieringkolwyntjies

Koppie-en-pieringkolwyntjies. Foto: NEVILLE LOCKHART
Koppie-en-pieringkolwyntjies. Foto: NEVILLE LOCKHART

Bestanddele

Basiese kolwyntjies
125 g sagte botter
180 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
1 ekstra-groot eier, geklits
550 ml bruismeel
200 ml melk

Basiese botterversiersel
125 g sagte botter of margarien
500 ml versiersuiker, gesif
10 ml vanieljegeursel
Kookwater of louwarm melk

Koppies en pierings

24 Mariebeskuitjies
250 ml ligpienk botterversiersel
125 ml donkerpienk botterversiersel
24 mini-kolwyntjies in pienk papiervormpies
125 ml gladde aarbeikonfyt
8 pienk pypskoonmakers

Vir basiese kolwyntjies: Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n muffinpan met papiervormpies uit. Verroom botter en strooisuiker goed. Voeg vanieljegeurseleneier byenklits deur.Voubruismeel en melk by belag in.

Maak papiervormpies driekwart vol met beslag en bak vir 12-15 minute, tot liggoudbruin en gaar. Haal uit pan en laat op draadrak afkoel (anders trek papiervormpies los). Lewer 12 standaardgrootte en 24 mini-kolwyntjies. Wenk: Soek vir mini-muffinpanne by supermarkte of bakwinkels.

Vir basiese botterversiersel: Verroom botter of margarien en versiersuiker saam. Klits vanieljegeursel en kookwater of melk by om smeerbare versiersel te kry. Hou aan klits tot lig en romerig. Voeg kleursel by, soos verkies. Lewer 500ml.

Vir koppies en pierings: Smeer elke Mariebeskuitjie met ’n lagie ligpienk botterversiersel. Skep donkerpienk botterversiersel in spuitsak met dun punt (of gebruik plastiek-toebroodjiesakkie en knip ’n klein puntjie af). Spuit ’n dun randjie om die kant van elke Mariebeskuitjie. Smeer al die kolwyntjies met ’n lagie ligpienk botterversiersel en spuit ’n dubbele rand rondom elkeen met donkerpienk botterversiersel.

Skep ’n klein bietjie aarbeikonfyt bo-op elkeen. Sit versierde kolwyntjie in die middel van die Marie-piering neer. Knip elke pypskoonmaker in drie ewe groot stukke en buig om soos ’n koppie se oor te lyk. Druk in kolwyntjie vas, soos op die foto.

Lewer 24 koppie-en-piering-kolwyntjies.

Landbouweekblad, 27 Augustus 2010

Rotasie blok

 
4.5
 
 

Kommentaar

Ronèl Ham 

Heerlike resepte. Het al 'n hele paar getoets. Net jammer dat ons nie meer elke week se resepte soos dit in die tydskrif verskyn op die webtuiste kan kry nie.

erika grobler 

Uitstekende tydskrif vir mans en vrouens,veral handwerk en resepte

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.