|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dié maklike resepte van Marthie Smalberger van die plaas Elandspoort by Volksrust, Mpumalanga, kan jy 27 September 2002
reeds die vorige aand voorberei en, wanneer nodig, in die oond
druk.
Ontbytskottel
Die meeste van dié bestanddele behoort jy in die koskas te hê. Die resep is genoeg vir ses tot agt mense.
15 ml botter
1 ui, in ringe gesny
1 soetrissie (opsioneel), in dun repies gesny
500 g Weense of Russiese worsies, in stukke gesny
7 snye witbrood, korsies verwyder en in blokkies gesny
8 ekstra groot eiers, geklits
625 ml melk
10 ml mosterdpoeier
sout en peper na smaak
30 ml pietersielie, opgekap
250 ml gerasperde cheddarkaas
Stel die oond op 180°C. Bespuit 'n groot vuurvaste bak. Smelt die botter en soteer ui en soetrissie tot sag. Voeg die worsies by en roerbraai tot bruin. Skep in bakskottel en skep die broodblokkies bo-op. Meng die eiers, melk, mosterdpoeier en geur met sout en peper na smaak. Voeg die pietersielie by en giet oor die bestanddele in die bak. Laat staan 'n uur lank of oornag. Strooi die kaas bo-oor en bak sowat 30 minute of tot gestol. Dien dadelik op.
Wenk: Die staantyd vir dié gereg is belangrik omdat die brood eers die vloeistof moet absorbeer. Ons kosredaksie het gevind dat net sowat 30 minute ook voldoende is. Ons het dit net daarna gebak en die ontbytskottel was voortreflik!
Pasta-kaas-gereg
Jy kan macaroni of spagetti hiervoor gebruik. Lees ook eers die wenke onderaan voordat jy wegval.
30 ml kookolie
1 ui, fyn gekap
2 huisies knoffel, fyngedruk (opsioneel)
250 g ontbytspek of 500 g maalvleis
1 blik (410 g) tamatiepuree of
1 blik (410 g) heel tamaties, opgekap
500 ml gerasperde cheddarkaas
sout en vars gemaalde swartpeper
500 g pasta, gaargemaak volgens die aanwysings op pak
Verhit die olie in 'n pan. Soteer die ui en knoffel daarin. Haal uit pan en braai die spek of maalvleis daarin. Voeg die tamaties by. Laat prut en skep weer die ui en knoffel terug. Voeg sowat 375 ml van die kaas asook geurmiddels by. Laat prut sowat twee minute lank. Skep die pasta onder in 'n bak met die tamatiemengsel bo-op. Sprinkel die res van die kaas bo-oor. Plaas in oond tot die kaas gesmelt het. Dien op met mengelslaai.
Wenk
Vir ekstra geur, voeg 1 ml mosterdpoeier, gemengde kruie na smaak asook 30 ml blatjang by.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24