Menu
 

Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)
12 Desember 2008

7793 keer gelees | 0 kommentaar


Wat is 'n Kersete sonder koekstruif? Ek het by vyf kosskrywers gaan aanklop vir hul gunstelingkoekstruif-idees. Daar is ook twee uit ons eie kombuis. Die een so lekker soos die ander. Die enigste probleem is nou... hoe kies 'n mens watter een om te maak?

Sonja se bessiekoekstruif.

Sonja Jordt is die kosredakteur van die huis-en-tuin-tydskrif Tuis. Sy maak haar heerlike bessiekoekstruif met tuisgemaakte bessiejellie en égte bakkersvla. Sonja vertel: "My herinneringe aan koekstruif is nog glashelder. Die verskillende veelkleurige lagies in een groot bak wat gewoonlik met feesdae op die tafel verskyn het. Ons het almal met groot afwagting uitgesien na die poeding en as jy jou bakkie met die deurmekaarspul gekry het, was jy die gelukkigste kind op aarde. Liplekker saligheid! Ek het die koekstruif van my kinderjare effens aangepas en nou het 'n ou gunsteling sommer 'n nuwe baadjie. Hier is hy."

Bessiejellie
250 ml strooisuiker
200 ml water
200 g gemengde bessies (vars of bevrore)
5 ml gelatien
15 ml koue water
Vla
2 eiers
2 eiergele
140 ml strooisuiker
45 ml koekmeel
25 ml mielieblom
5 ml vanieljegeursel
500 ml melk
Om saam te stel
250 g konfytrol
Brandewyn of soetwyn
200 g vars bessies (frambose, brame en bloubessies)
100 g geroosterde amandels, gekap (opsioneel)
375 ml geklopte room en ekstra vars bessies (opsioneel)

Berei die bessiejellie: Verhit strooisuiker en water in 'n kastrolletjie en roer totdat die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir 5 minute. Verwyder van die hitte en voeg die bessies by. Laat staan tot afgekoel en verwerk tot glad. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan tot gespons. Smelt in die mikrogolf en roer by die bessiepuree.
Berei die vla: Klits die eiers, eiergele en strooisuiker saam tot lig en dik. Klop meel en mielieblom by. Verhit melk en voeg by die eiermengsel terwyl jy klop. Sit dit terug op die plaat en bring stadig tot kookpunt terwyl jy aanhoudend klits. Die vla sal verdik en gaar word. Voeg die vanieljegeursel by en verwyder van die hitte.
Om saam te stel: Sny die rolkoek in skyfies en pak die helfte op die bodem van 'n dienbak van glas. Sprinkel brandewyn of soetwyn bo-oor, gevolg deur 'n laag vars bessies, bessiejellie en laastens vla. Sprinkel nou die helfte van die geroosterde amandels (indien gebruik) oor. Herhaal die lae en eindig weer met vla (en amandels). Jy kan die koekstruif nou net so voorsit of dit nog meer dekadent maak en dit met geklopte room en ekstra vars bessies versier voordat jy dit voorsit. Sit die koekstruif in die yskas tot dit voorgesit gaan word nie. Genoeg vir 8-10 mense.

Bernice se swartwoudkoekstruif

Bernice van der Merwe, Huisgenoot en You se assistent-kosredakteur en stilis, laat weet hierdie resep is haar ma, Hetta, s'n. Dis ryk en baie lekker en sal verseker in jou smaak val as jy nie een is vir tradisionele koekstruif met jellie en vrugte nie.

1 groot sjokoladerolkoek OF 2 pakkies (6 elk) ystervarkies (''lamingtons'')
1 blik (397 g) kondensmelk
125 ml vars suurlemoensap
1 houer gladde, geroomde maaskaas
OF ongegeurde roomkaas
2 blikke (425 g elk) ontpitte swart kersies (hou 'n paar vir afronding)
60 ml kersielikeur
100 g geroosterde haselneute, grof gekap
2 Flakes, grof gekrummel

Sny of breek die sjokoladerolkoek of ystervarkies in stukke en hou eenkant. Klits die kondensmelk, suurlemoensap en maaskaas (of roomkaas) tot glad en hou eenkant. Dreineer die kersies, maar behou die stroop. Voeg die kersielikeur by die stroop en hou eenkant.
Om saam te stel: Pak 'n laag van die koek onder-in 'n dienbak van glas. Besprinkel mildelik met die kersielikeurmengsel, gevolg deur 'n lagie van die kondensmelkmengsel, 'n lagie kersies, 'n lagie neute en 'n klein bietjie gekrummelde Flake. Herhaal die lae en eindig met 'n lagie van die kondensmelkmengsel. Rond af met ekstra kersies en gekrummelde Flake. Verkoel vir minstens twee uur voor die koekstruif voorgesit word. Genoeg vir 6-8 mense.

Anke se 'kroekstruif'

Sy was nog nooit 'n groot koekstruif-eter nie, skryf Anke Roux, kosredakteur van Pick n Pay se verbruikerstydskrif, Fresh Living. "Maar met my werk as kosskrywer en stilis hou jy 'n hele klomp keer per jaar krismis en dit begin sommer al in Augustus. Elke jaar maak jy 'n draai by die klassieke Kersete en só dan ook by koekstruif. Ek het met hierdie resep vorendag gekom wat die elemente van 'n tradisionele koekstruif het, maar net op 'n nuwe, en vinniger, manier gemaak word. Koop jou vla sommer klaar, dan is dit éérs eenvoudig, maar het steeds die "wow" faktor."

1 pakkie (80 g) aarbei-jellie
500 ml gemengde bessies
250 ml kitsvla
125 ml room, geklop
15-30 ml brandewyn
8 brosbroodkoekies, grof gebreek

Maak die jellie volgens die aanwysings op die pakkie en laat dit effens afkoel. Verdeel die bessies tussen 4-6 kort glase en giet die louwarm jellie daaroor. Laat stol in die yskas. Sodra stewig gestol, giet ongeveer 45-60 ml vla bo-op elke jellielaag en sprinkel 'n eetlepel brosbroodkrummels oor elke laag vla. Vou die room en brandewyn liggies saam in en skep bo-op elkeen. Versier met nog gebreekte brosbrood en 'n paar ekstra vars bessies, indien verkies. Verkoel tot benodig. Genoeg vir vier tot ses mense.

Uit Landbouweekblad se argiewe

Dié resep vir 'n bevrore koekstruif het agt jaar gelede in Landbouweekblad verskyn. 'n Ideale nagereg om 'n week of wat voor Kerfees al te maak en in die vrieskas te hou. Dit herinner nogal aan casatta en is nommerpas vir ons warm Kersfeesweer.

1 konfytrol, in skywe gesny
125 ml sjerrie
500 ml dik room
5 ml rum
2 ml amandelgeursel
6 eierwitte (vries die gele of gebruik vir vla)
180 ml strooisuiker
100 ml gemmerstukke in stroop met 25 ml van die gemmerstroop
100 ml gekapte groenvyekonserf met 50 ml van die groenvyestroop
100 ml gekapte maraschino-kersies met 50 ml van die kersiestroop
100 g gekapte, gemengde neute
Ekstra geklopte room, groenvye, kersies en neute, om voor te sit

Voer 'n gesmeerde broodpan met 'n inhoudsmaat van 2 liter goed uit met kleefplastiek en spuit die binnekant liggies met kleefwerende kossproei. Pak 'n laag rolkoekskywe styf teen mekaar op die boom van die broodpan en besprinkel met die helfte van die sjerrie. Klits die room styf en vou die rum en amandelgeursel daarby in. Maak die klitser goed skoon en klits die eierwitte tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker lepelsgewys by, terwyl aanhoudend geklits word, tot die mengsel dik en blinkwit is. Vou die geklopte, gegeurde room hierby in. Kap die gemmerstukke fyn en meng met die stroop. Voeg die gemmer en stroop by die roommengsel saam met die groenvye en stroop, kersies en stroop en gekapte neute. Vou alles liggies saam en giet in die broodpan. Vries tot halfhard, haal uit die vrieskas en pak die orige rolkoekskywe (met die res van die sjerrie besprinkel) bo-op. Draai goed toe met kleefplastiek of foelie en vries tot benodig. Om voor te sit, keer uit die pan op 'n dienbord en versier bo-op met geklopte room en ekstra groenvye, kersies en neute. Genoeg vir 12-14 mense.

Barbara se maklike koekstruif

Sy maak hierdie maklike koekstruif elke Kersfees, skryf Barbara Joubert, kosredakteur van die tydskrifte Sarie en Sarie KOS.

konfytrolle
250 ml sjerrie
200 g pekanneute, gekap
1 liter tuisgemaakte middelslag-dikte vla
500 ml room

Sny die rolkoek in skywe of blokkies. Gebruik 'n groot glasbak en pak een laag van die rolkoek onder-in. Sprinkel van die sjerrie oor en dan van die gekapte neute, gevolg deur 'n laag vla van ongeveer 1 cm dik. Herhaal die lae tot ál die bestanddele opgebruik is. Klits die room styf (versoet en geur na smaak, indien verkies) en skep bo-op die koekstruif. Versier met ekstra pekanneute en bêre in die yskas tot dit voorgesit word. Genoeg vir 10 mense.

Vickie (se ma) se tradisionele koekstruif

Vickie de Beer, Rooi Rose se kosredakteur laat weet sy hou baie van koekstruif. "Oor die jare het ek baie byderwetse variasies geprobeer, maar my ma se resep bly my gunsteling. Sy maak altyd op Nuwejaarsdag ?n reuse-koekstruif in 'n ou ponsbak."

1 rolkoek, in stukkies gesny
45 ml brandewyn of sjerrie
1 blik (410 g) ingemaakte vrugtekelkie, gedreineer
5 heel, ingemaakte groenvye, in stukkies gesny
150 g maraschino kersies, in kleiner stukkies gesny
50 g pekanneute, gekap
1 liter dik, tuisgemaakte vla
1 pakkie (80 g) portwynjellie, aangemaak en gestol
1 pakkie (80 g) suurlemoenjellie, aangemaak en gestol
250 ml room

Pak 'n laag koekstukkies in 'n groterige glasbak. Besprinkel met 'n bietjie van die brandewyn of sjerrie. Skep 'n lagie van die vrugtekelkie oor die koek. Rangskik van die vye, kersies en neute bo-op die vrugte. Bedek die vrugte met 'n lagie van die vla, gevolg deur 'n lagie fyngesnyde jellie. Herhaal die lae van die koekstukkies tot by die jellie (hou van die kersies, groenvye en neute uit om die koekstruif mee te versier). Klits die room styf en smeer oor die jellielaag. Versier met oorskiet stukkies groenvye, kersies en gekapte neute. Genoeg vir agt mense.

Arina se koekstruif-brulee

Ek het dié resep 'n paar jaar terug vir 'n Kersstorie in 'n resepteboek ontwikkel. Dis 'n kombinasie van koekstruif en crème brulee (my gunstelingnagereg). Ek maak gewoonlik individuele porsies in klein, vuurvaste bakkies, maar jy kan 'n groot poeding ook maak.

Sny die karamelrolletjies in snytjies van 2 cm dik en pak in 'n enkellaag op die boom van 'n oondvaste glasbak. Sprinkel die sjerrie oor. Pak die groenvye egalig bo-op en sprinkel die neute oor. Verhit die room en 80 ml strooisuiker, saam met die vanieljesaadjies en peul, oor lae hitte tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut liggies vir 5 minute. Klits die eiergele en giet die warm room in 'n dun straaltjie by die eiergele, terwyl aanhoudend geklits word. Laat effens afkoel en verwyder die vanieljepeul. Voorverhit die oond tot 150 °C. Sit die glasbak op 'n vadoek in 'n groter, oondvaste bak neer en giet water in die groter bak (genoeg om halfpad teen die glasbak op die kom). Giet die eier-en-roommengsel oor die vye en neute en laat staan vir 10 minute. Bak vir ongeveer 30-35 minute tot net-net ferm as jy teen die glasbak tik. Haal uit die oond en haal die bak dadelik uit die warm water. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel tot net voor opdiening. Net voor dit voorgesit word, voorverhit die oond se roosterelement of hou 'n gasvlam gereed. Sprinkel die 180 ml strooisuiker egalig oor nagereg en druk vinnig onder die oondrooster (of gebruik 'n gasvlam) tot die suikerlagie gekarameliseer is. Werk vinnig sodat die vla nie warm word nie. Sit weer in die yskas tot nodig.Genoeg vir 8 mense.

Landbouweekblad, 12 Desember 2008

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.