|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die gebruik van kruie in kos en as medisyne is so oud soos die berge en
daar is 'n sterk terugkeer na dié tradisie. Ná 'n besoek aan 'n bekende
kruiekwekery in Stellenbosch, het kosredakteur CATHY JOUBERT ook weer onder die
betowering van dié helende en geurige plante gekom.
As jy 'n kruietuin wil
aanlê, of net meer wil weet oor kruie en inheemse plante, is Heiveld Herbs net
die plek om te gaan kuier. Daar sal jy alles en nóg by die energieke eienaar
Bridget Kitley en haar span kan leer. Met tipiese Britse humor (en 'n vreemde
aksent waaraan ons 'n rukkie neem om gewoond te raak!) skets sy die ontstaan van
haar onderneming in 1985: Haar eersteling was op pad en sy wou 'n onderneming
uit die huis bedryf. Maar van tuinmaak en kruie het sy niks geweet nie. Sy kon
net onthou hoe haar pa in Engeland altyd onkruid in sy tuin uitgeroei het en
destyds het sy hom bejammer omdat hy, volgens haar, niks beter gehad het om te
doen nie!
Kort voor lank het sy as 't ware 'n obsessie oor kruie gehad en
wanneer sy nie met haar neus in die boeke gesit het nie, het sy by kenners en
enigeen wat sy kennis met haar wou deel, gaan kers opsteek.
Vandag, meer as
20 jaar later, is Heiveld Herbs op die plaas Oorkant, net af van die
Blaauwklippenpad in Stellenbosch, gevestig. Die onderneming is geregistreer as
Organiese Kruie Kwekers.
Kruieplante word onder 40 % wit skadunet in
natuurlike organiese grond gekweek en geen insekdoders word op enige plant
gebruik nie. Net organiese voedingstowwe, indien nodig, word gebruik. Bridget se
onderneming kweek 99 % van ál hul plante, hetsy deur saad of verdeling of
verspreiding.
Behalwe die wye reeks kruiespesies en groot reeks inheemse
plante, is daar ook kleiner tuine met spesifieke temas uitgelê waardeur die
publiek kan wandel en meer te wete kom oor die plante. Daar is 'n restaurant en
ook speelplek vir die kinders. Jessica Muller, wat op 'n wynplaas in die
omgewing bly, is die sjef in die restaurant. Haar resep vir 'n limonadedrankie
is onderaan die blad.
Werkwinkels behels 'n praatjie en praktiese sessie in
die tuin saam met Bridget.
Vir meer inligting, bel
gerus 021 880 1912 of stuur e-pos aan: info@heiveldherbs.co.za. Besoek ook die
webblad: www.heiveldherbs.co.za
.
Tydens Landbouweekblad se besoek, het Bridget
'n paar interessante konkoksies met kruie gedemonstreer.
Tinktuur (resep van
Yvette van Wijk):
Neem 'n wyebek fles en vul losweg met 3 smeerwortel
("comfrey") blare van middelmatige grootte, 60 x 80 mm laventeltakkies, 80 x 50
mm tiemietakkies, 60 x 80 mm roosmaryntakkies, 15 ml kamille-blomme en 15 ml
vinkelsaad.
Kap alles rofweg en plaas in fles. Vul fles met 45 % suiwer
alkohol en maak dig toe. Plaas fles in son vir minstens 2 tot 3 weke en skud die
fles elke dag. Syg deur en vul aan met nog kruie indien tinktuur nie sterk
genoeg is nie. Syg deur 'n fyn doek en giet in klein bruin bottels.
Om te gebruik:
As gorrel- of mondspoelmiddel vir seer kele, mond- en
tandvleisinfeksies. Vir slegte asem, verdun 20 tot 30 druppels van die tinktuur
in 50 ml warm water met 'n skeut suurlemoensap.
Kan ook uitwendig aangesmeer
word op steek-, byt- en snyplekke.
Kruieroom: Gebruik 'n dubbelkoker van
staal of emalje. Skep 500 ml Vaseline in bodeel en voeg hierby gekapte kruie
(blomme en blare) soos verkies. Verhit stadig op stoof tot Vaseline vloeibaar
is. Die kruie trek in die Vaseline in. Skakel plaat af en laat so staan vir 24
uur. Verhit weer en syg terug in Vaseline-houer. Laat afkoel en gebruik.
*
Tuis het ons 'n toetslopie gemaak met smeerwortelblare en -blomme. Vryf die room
saans goed in aan pynlike gewrigte soos knieë en elmboë. Aftreksel: Giet 250 ml
kookwater oor 'n 5 ml gedroogde of 10 ml vars kruiemengsel en laat trek vir 5
tot 10 minute. Syg deur wanneer die vloeistof 'n bleek groenerige beige kleur
het. Voeg heuning of suurlemoen by soos verkies.
Let wel: Moenie die kruie
kook nie; moet dit ook nie met 'n mes of sker afsny nie, anders gee dit 'n
bitter smaak.
Aftreksels of tee vir die dag of aand: 'n Kalmerende aftreksel
vir enige tyd van die dag kan gemaak word met een deel (een deel is enige
eenvormige mate) kamomileblomme of 3 dele sitroengras. Om in die aand te
ontspan, maak 'n aftreksel van byvoorbeeld een deel laventel of twee dele
sitroen-verbena.
Ken jou kruie
Hier is 'n paar kruie - en hul
gebruike - wat jy kan aanplant. Ons gee net 'n paar riglyne. Besoek die webblad
en onthou dat kinders onder geen omstandighede sonder toesig dié rate mag
beproef nie.
1. Aloe Ferox
(Kaapaloe)
Dié bekende aalwynplant is
droogtebestand, floreer in enige tipe grond en kan met min water klaarkom.
Gebruike: Té veel om op te noem. Help onder meer vir aknee, vratjies en
hitte-uitslag. Ook goed vir keelinfeksies.
2. Wildeals (Artemisia afra)
In vol son of ligte skadu groei dié plant met sy veeragtige aromatiese
blare en feitlik skaars merkbare blomme op die punte van lang
stele.
Gebruike: Een van die mees gebruikte tradisionele medisynes in ons
land. Help vir hoes, verkoues en griep asook koors, gebrek aan eetlus, oorpyn en
kopseer. Vars gekneusde blare help vir verstopte nasale weë of kook die blare en
asem die dampe in. Kan ook as aftreksel gebruik word, hoewel dit 'n bitter smaak
het.
3. Kooigoed (Helichryssum
petiolare)
'n Aromatiese meerjarige
struik met digte harige of wollerige blare. Droogtebestand in vol son of skadu.
Kan ook in 'n pot groei. Daar is sowat 245 spesies in die land. Gebruike: Word
as rituele wierook deur Xhosa en Zoeloe-stamme gebruik en staan by hulle bekend
as Imphepho. Help vir hoes, verkoues, koors en kopseer en is 'n bekende
bestanddeel vir verbinding van wonde. Twee hande vol wilde malvablare met
roosgeur (pelargorium) Is as beddegoed deur die Khoi, Boesmans, Voortrekkers en
Setlaars gebruik wat in die nag die blare om hulle gedraai het vir warmte met op
die koop toe die aromatiese geur daarby. Vandaar die naam.
'n Wenk of twee
Skaf gerus 'n goeie boek aan oor kruie en besoek ook die webblad soos
hierbo aanbeveel.
Die wonder van kruie is dat daar so baie gebruike vir een
plant is. So gebruik Bridget nie net roosmaryn vir lamsvleis nie, maar 5 ml van
die vars kruie in 250 ml kookwater is 'n verkwikkende tee en baie beter as
koffie! 'n Paar druppels roosmarynolie in die badwater is net so stimulerend
maar nie aan te beveel vir mense met hartprobleme nie.
Jessica se limonade
2 hande vol wilde malvablare met roosgeur (pelargorium)
1,5 liter kookwater
2 kg suiker
sap van 5 suurlemoene
gerasperde skil van een suurlemoen
30 g sitroensuur
Laat die blare vir 10 minute in die kookwater trek. Meng in 'n groot bak die suiker, suurlemoensap, -skil en sitroensuur. Bring blare in water tot kookpunt. Lig blare uit. Voeg kookwater by suiker-suurlemoenmengsel in die bak. Roer tot suiker opgelos is. Laat afkoel. Jy het nou 'n konsentraat van 3 - 4 liter.
Om op te dien, giet sowat 20 mm van die konsentraat (of na smaak) in 'n lang glas en vul op met ys- of sodawater na smaak.
Wenk:
Enige eetbare blommetjie, soos komkommerkruid, kan saam met ysblokkies gevries word en as versiering gebruik word.
9 Mei 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24