|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Tydens die vroueklub-dag van die wynlandgoed
Weltevrede het Freda Rossouw van Bonnievale middagete voorberei. Ons deel graag
met ons lesers 'n paar van haar lekker resepte.
Tunamousse
Maak dit al die vorige dag en hou in die yskas.
3 blikkies (185 g elk) tuna in pekel
150 ml mayonnaise
15 ml suurlemoensap
200 ml room, styf geklits
30 ml gekapte pietersielie
3 sprietuie, fyn opgekap
sout en peper na smaak
25 ml gelatien
75 ml water
Dreineer tuna en maak fyn saam met mayonnaise en suurlemoensap of plaas in voedselverwerker. Vou room, pietersielie, uie, sout en peper in. Spons gelatien oor water en laat oplos oor warm water of in mikrogolfoond. Meng goed met tunamengsel.
Skep in gesmeerde broodpan van 12 x 22,5 x 7 cm. Bedek en laat stol in yskas.
Keer uit op opdienbord. Dien op in skywe saam met Franse brood.
Hoender met pruimedante en koffie
Dié interessante kombinasie van droëvrugte en baie sterk koffie saam met Port gee 'n besondere geur aan die vleis.
16 hoenderporsies
appelkooskonfyt
sout en peper na smaak
kruie soos roosmaryn en tiemie
500 ml droë wit wyn
Sous
60 ml elk botter en olyfolie
16 vars piekeluitjies
15 ml vars tiemie
250 ml Port
500 ml sterk koffie
24 ontpitte pruimedante
sout en peper
15 ml mielieblom
30 ml water
Stel oond op 200 °C. Plaas hoender in oondpan en smeer appelkooskonfyt bo-oor. Geur vleis en en sprinkel kruie oor. Giet wyn in oondpan en bak vleis tot gaar en goudbruin. Bedruip gereeld (hou dop vir aanbrand en bedek, indien nodig).
Vir die sous: Verhit botter en olyfolie en soteer uitjies. Voeg tiemie, Port en koffie by en bring tot kookpunt. Voeg pruimedante by en prut onbedek vir 20 min. Maak mielieblom met water aan tot 'n pasta. Roer by sous tot verdik.
Sit hoender voor op koeskoes saam met warm sous.
Dien op saam met tamatie-uiemengsel (resep volg), koeskoes en groente.
Tamatie-uie-mengsel
Dis 'n redelike groot hoeveelheid, maar jy kan dit altyd in die yskas bêre of vries vir 'n volgende keer.
1 kg uie, fyn opgekap
500 ml wit asyn
2 kg ryp tamaties, ontvel
1 kg suiker
30 ml kerriepoeier
30 ml mosterdpoeier
5 ml rooipeper
30 ml mielieblom
sout na smaak
Kook uie in asyn tot sag en voeg res van bestanddele, behalwe mielieblom, by.
Kook tot sag. Maak die mielieblom met 'n bietjie koue water aan, roer by die mengsel in kastrol en laat weer kook. Voeg die sout by. Wanneer gaar en verlangende dikte bereik is, verwyder van hitte en hou warm tot benodig.
Lemoenfudge
Daar moet 'n poeding wees om dié heerlike ete mee af te sluit. Die likeur gee 'n pikante smaak hieraan.
200 ml lemoensap
50 ml Van der Hum-likeur
1 pakkie (125 g) vingerbeskuitjies
200 g wit melksjokolade
gerasperde lemoenskil
125 ml room
30 ml botter
10 ml gelatien
45 ml water
250 ml ekstra room
5 ml vanieljegeursel
2 eierwitte
50 ml strooisuiker
Meng lemoensap en likeur, doop al die beskuitjies hierin en rangskik op die bodem van 'n bak van sowat 27 x 18 cm.
Smelt sjokolade, lemoenskil, 125 ml room en botter oor kokende water of in die mikrogolfoond. Spons gelatien oor water en laat oplos oor kokende water of mikrogolf. Roer in by sjokolademengsel. Laat afkoel, maar wees versigtig dat dit nie stol nie. Klop room styf met geursel en vou by sjokolademengsel.
Klits eierwitte saam met strooisuiker tot styf en vou in by sjokolademengsel. Skep op vingerbeskuitjies. Plaas in yskas.
Wenk: Freda het wit sjokolade gebruik, maar ons het gevind bruin sjokolade werk net so lekker.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24