Met gebakte worsies, geblikte bone en rissies kan jy in
'n japtrap 'n vullende ete hê. Bak 'n vinnige pita-broodjie daarby, en ons praat
Mexikaans!
Worsie-en-bone-gereg
Die lekker sous hierby vra vir genoeg brood of pasta.
30 ml olyfolie
125 g ontbytspek, gesnipper
1 chorizoworsie (Italiaans-Portugese worsies)
500 g varkworsies
200 g Country style gegeurde worsies
2 huisies knoffel, gekneus
1 groot ui, in ringe gesny
1 elk groen-, rooi- en geelsoetrissie, ontpit en in repe of blokkies gesny
1 klein brandrissie, pitte verwyder en opgekap
250 ml groente-aftreksel
1 blik (410 g) opgekapte tamaties
60 ml tamatiepasta
1 blik (410 g) gemengde bone, gedreineer
1 blik (410 g) gebakte boontjies in tamatiesous
1 blik (410 g) botterbone, gedreineer
sout en swartpeper na smaak
Verhit die helfte van die olie in 'n pan en braai die spek en al die worsies daarin tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant. Indien nodig, voeg die res van die olie by en soteer die knoffel en ui daarin tot sag. Voeg al die rissies by en soteer sowat een minuut. Voeg die aftreksel, tamaties en pasta by. Plaas die worsies en spek terug in die pan. Bedek en laat sowat 15 minute prut. Roer nou en dan goed deur. Voeg die res van die bestanddele by en laat prut weer sowat 6 - 8 minute. Dien op met pita, rolletjies of pasta.
Pitabrood
Met die nuwe kitsgis, rys só 'n broodjie in 'n japtrap. Bak dit in 'n pan op die stoof of in 'n elektriese pan.
1 pakkie (10 g) kitsgis
1 125 ml koekmeel (= 4 x 250 ml + 125 ml)
10 ml sout
500 ml louwarm water
15 ml heuning
30 ml olyfolie
Meng droë bestanddele saam. Los heuning in louwarm water op en voeg by die eerste mengsel. Knie vir sowat tien minute op 'n meelbestrooide oppervlak tot 'n sagte deeg.
Laat rys tot dubbel die volume. Knie af. Verdeel in 12 bolletjies, plaas op voorbereide bakplaat en laat weer rys. Rol elke balletjie uit tot sowat 16 cm in deursnee.
Verhit pan op hoë hitte. Borsel die pan liggies met olyfolie en plaas deegsirkels een op 'n keer daarin. Bak sowat 2 minute aan elke kant of tot bruin en gaar. Herhaal tot al die sirkels gebak is.
Die brood is op sy lekkerste as dit so warm uit die pan geëet word.
7 Februarie 2003