|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die beste dinge in die lewe is meestal die heel eenvoudigste. Só werk dit dan ook met kos. Om verleidelike pawlowa,hemelhoë, soet soufflé of bros skuimpies te maak, begin jy met net twee bestanddele: Eierwit en suiker. En dan kan jy, met die blinkwit meringue wat jy daarmee maak, 'n verskeidenheid veerligte lekkertes optower.
Die geheim van perfekte meringue
Perfek geklitste meringue is blink, wit, lig en so styf dat jy die bak onderstebo sal kan hou sonder dat dit uitval.
Voor jy begin:
Terwyl jy klits:
Meringue-en-klapper-rollade
'n Mondwaterlekker meringue-rolkoek. Ek het dié een 'n tropiese geur gegee deur 'n bietjie geroosterde, fyn klapper by die meringue in te vou en grenadella met die room te meng. Jy kan na hartelus met geure speel. (Vervang byvoorbeeld die klapper met gemaalde amandel en geur die room liggies met amandelgeursel.) Meringue-rollade is 'n ideale nagereg vir 'n lente- of someronthaal en pas ook op enige teetafel.
Rollade
5 groot eierwitte, teen kamertemperatuur
1 ml sout
310 ml strooisuiker
125 ml geroosterde klapper, goed afgekoel
Roomvulsel
375 ml vars room
100 ml strooisuiker
3 ml vanieljegeursel
Paar vars grenadellas
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 'n rolkoekpan liggies met olie (of spuit met kleefwerende kossproei) en voer uit met bakpapier. Smeer of spuit die bakpapier ook goed. Klits die eierwitte en sout saam tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tussen byvoegings tot al die suiker opgebruik en die mengsel dik en blink is. Sprinkel die klapper oor en vou dit versigtig met 'n metaallepel in. Skep die meringue in die voorbereide pan en smeer egalig. Bak vir 20-25 minute tot die bokante van die meringue goudbruin en bros en die binnekant steeds sag is. Haal uit die oond, sit 'n groot genoeg vel bakpapier bo-op die meringue en keer die pan om, sodat die meringue op die vel bakpapier lê. Trek die bakpapier versigtig van die onderkant af en laat die meringue só afkoel.
Sodra die meringue koud is (dit duur 10-15 minute), klits die room, strooisuiker en vanieljegeursel saam styf. Skep die pulp uit 'n paar grenadellas en vou versigtig by die room in. Smeer 'n driekwart van die grenadellaroom oor die rollade en rol versigtig op. Versier die rollade bo-op met die orige room en grenadellapulp. Sit dadelik voor.
Genoeg vir 10 mense.
Soufflé-pannekoek
In plaas daarvan om 'n stapel dun pannekoeke of 'n bak vol klein plaatkoekies vir ontbyt te maak, probeer 'n paar van dié lekker groot soufflé-pannekoeke. Sit skywe daarvan warm voor met room of mascarpone en 'n vrugtesous.
6 groot eiers, geskei
375 ml volroommelk
5 ml vanieljegeursel
500 ml koekmeel
2 ml sout
90 ml strooisuiker
90 ml gesmelte botter
Klits die eiergele, melk, vanieljegeursel, meel en sout saam tot glad. Klits die eierwitte in 'n groot bak tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Klits goed ná elke byvoeging. Hou aan klits tot dik en blink. Vou die meringue by die pannekoekbeslag in. Verhit 'n eetlepel gesmelte botter in 'n pan met redelik hoë kante en giet genoeg beslag daarin sodat dit sowat 3 cm teen die kant van die pan opstoot. Braai oor lae hitte tot die onderkant goudbruin is. Keer versigtig om en braai tot goudbruin en gaar. Herhaal met die res van die beslag.
Lewer ongeveer ses groot soufflé-pannekoeke (een pannekoek is genoeg vir vier mense.)
Meringue-en-pekanneutkoekies
Hier sal jy jouself moet inhou, want dis maklik om sommer die hele bak vol op te eet!
1 groot eierwit, teen kamertemperatuur
Knippie sout
250 ml strooisuiker
1 ml kaneel
375 ml pekanneute, baie fyn gekap
Voorverhit die oond tot 140 °C en voer 'n bakplaat met bakpapier uit. Smeer liggies of spuit met kleefwerende kossproei. Klits die eierwit en sout tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by en klits goed tot die mengsel dik en blink is. Voeg die kaneel by en vou die neute in. Skep klein hopies van die mengsel op die voorbereide bakplaat (los genoeg spasie vir die koekies om effens te sprei) en bak vir 25-30 minute tot die koekies droog is bo-op. Verwyder versigtig met 'n eierspaan van die bakplaat (die koekies sal nog sag wees in die middel) en laat op 'n draadrak afkoel. Bêre in 'n lugdigte houer sodra heeltemal afgekoel. Lewer ongeveer 40 koekies.
Sjokolade-soufflé
Min van ons maak graag soufflé ? oor dit so indrukwekkend uit die oond kom en dan, met 'n vinnige sug, alle fut verloor. Hierdie een moet jy ook regstreeks uit die oond voorsit, maar omdat dit 'n meringuebasis het, is dit heelwat stewiger en bly dit effens langer bo!
125 ml strooisuiker
100 g donker sjokolade, gekap
3 heel eiers, teen kamertemperatuur
3 eierwitte, teen kamertemperatuur
Versiersuiker, om oor te sif
Smeer agt soufflebakkies goed met botter en sprinkel 'n klein bietjie strooisuiker in elke bakkie. Kantel die bakkies sodat die basis en kante met 'n dun suikerlagie bedek is en skud die orige suiker uit.
Smelt die sjokolade oor baie lae hitte tot glad. Terwyl die sjokolade smelt, skei die drie eiers. Voeg die witte by die ander drie eierwitte in 'n skoon metaalbak. Voeg die eiergele by die gesmelte sjokolade en meng goed, tot glad. Klits die ses eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Klits goed ná elke byvoeging en hou aan klits tot die mengsel dik en blink is. Voeg 'n groot lepelvol meringue by die sjokolademengsel en vou in, tot goed gemeng. Vou dit dan versigtig by die res van die meringue in. Skep in voorbereide soufflebakkies en bak vir ongeveer 20 minute tot uitgerys en gekraak bo-op. Sif 'n bietjie versiersuiker oor en sit dadelik voor.
Lewer agt soufflés.
Landbouweekblad, 28 September 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24