Menu
 

ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)
4 Maart 2004

6282 keer gelees | 0 kommentaar


Suikertande sal saamstem: Niks wat jy in 'n blik koop kom naby die smaak van tuisgemaakte konfyt nie. Dié keer het ons effens afgewyk van die gewone en konfyt gekook met droëvrugte, pynappel en selfs whisky!

Vrugteslaai-konfyt
'n Konfyt met 'n besondere geur. Probeer dit op warm roosterbrood of croissants.

250 g droë appelkose, gesnipper
500 ml water
1 blik (470 g) fyn pynappel in stroop
125 ml lemoensap
60 ml grenadellapulp
750 ml suiker
3 groot piesangs, gesnipper

Laat week die appelkoosstukkies oornag in die water. Meng die volgende dag die appelkose en die weekwater en pynappel saam in 'n kastrol. Verhit tot kookpunt en laat prut vir 15 minute. Voeg die sap en grenadellapulp by, verlaag die hitte, bedek en laat prut vir 10 minute. Voeg die suiker by en roer tot gesmelt (moenie kook nie). Voeg die piesang by, verhit weer tot kookpunt en laat prut onbedek vir ongeveer 20 minute of tot die konfyt begin stol as 'n bietjie op 'n koue piering geskep word. Laat staan vir 5 minute en giet dan die warm konfyt in gesteriliseerde flesse. Verseël dadelik.
Lewer 1,5 liter konfyt.

Pynappelkonfyt
2 kg vars pynappel, skoongemaak en grof gekap
1,25 liter water
150 ml vars suurlemoensap
1,3 kg suiker

Meng die pynappel, water en suurlemoensap in 'n kastrol en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut liggies vir ongeveer 1 uur of tot die pynappel sag is. Verwyder van die hitte en voeg die suiker by. Roer tot gesmelt. Plaas terug op die hitte en laat prut vir 30 minute of tot die konfyt stol as 'n bietjie daarvan op 'n koue piering geskep word. Giet die warm konfyt in gesteriliseerde flesse en verseël dadelik.
Lewer ongeveer 1,5 liter konfyt.

Lemoenmarmelade met whisky
1 kg (ongeveer 4) lemoene
2 liter water
ongeveer 2,4 kg suiker
60 ml whisky

Sny die lemoene met skil en al in baie dun skyfies (hou die pitte). Plaas die pitte en 250 ml van die water in 'n bakkie, bedek en laat staan eenkant. Plaas die gesnyde vrugte in 'n groot bak en giet die res van die water bo-oor. Laat staan die twee bakke oornag. Giet die pitte se weekwater oor die bak met die gesnyde vrugte af en gooi die pitte weg. Verhit alles in 'n kastrol tot kookpunt. Bedek en laat prut vir 1 uur of tot die vrugte sag is. Laat een koppie suiker vir elke koppie vrugtemengsel toe. Voeg die suiker by en roer, sonder om te kook, tot gesmelt. Verhit tot kookpunt en laat prut onbedek vir 40 tot 60 minute of tot die marmelade 'n jellie vorm as 'n bietjie op 'n koue piering geskep word. Laat staan vir 5 minute, roer die whisky by en giet dan die warm konfyt in gesteriliseerde flesse. Verseël dadelik.
Lewer 2,5 liter marmelade.

Meer oor konfyt
Konfyt: Fyn vrugte en suiker wat saam gekook word tot setpunt. Konfyt is dik genoeg om gesmeer te word by kamertemperatuur.

Konserf: Heel of groot stukke vrugte in 'n dunner stroop.

Jellie: Word van deurgesygde sap van vrugte en suiker gemaak. 'n Goeie jellie is deurskynend, nie wolkerig nie en is ferm genoeg om sy vorm te hou, maar sag genoeg sodat dit maklik met 'n lepel geskep kan word.

Wenke

  • Gebruik altyd skoon, pas gesteriliseerde flesse om konfyt in te bottel en steriliseer die deksels ook goed. Moenie flesse met geroeste deksels gebruik nie.
  • Gebruik eerder 'n té groot kastrol — konfyt kook dan vinniger en die eindproduk het 'n mooier kleur.
  • Bêre flesse op 'n koel, droë donker plek — dit behoort 'n jaar lank te hou.
  • Sodra konfytflesse oopgemaak is, bêre in die yskas.

    5 Maart 2004

  • Kommentaar
    Slegs in Afrikaans

    Naam Kommentaar
    E-pos
    Tik in die nommers  

    Vind jou perfekte maat nou!

    Ek is 'n:
    Stel belang in:
    Ouderdom: tot
    Huidige
    Ligging:
    Wys net profiele met foto's

    Teken in vir die nuusbrief

    Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

    Lewende Hawe

    Soort 15/04/14 22/04/14 %
    Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
    Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
    Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
    Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
    Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

    Aandele