Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Ons daaglikse brood

Is daar iets wat lekkerder ruik en jou mond so vinnig laat water as die geur van brood wat bak? Stof 'n slag die broodpanne af en bederf jou huismense vandag met louwarm, tuisgebakte brood. (Natuurlik eers nadat jy sélf 'n warm korsie getoets het ...)

Bierbrood

'n Ou bekende by al wat 'n braai is, maar wat 'n staatmaker!

500 g (1 pakkie) bruismeel

5 ml sout

1 blikkie (340 ml) bier

Meng die meel en sout in 'n mengbak en maak 'n holte in die middel. Giet die bier in die holte en maak aan tot 'n stywe beslag. Skep in 'n goed gesmeerde broodpan en bak vir 1 uur tot goudbruin en deurgaar. Sit louwarm voor met botter en kaas. Lewer 1 middelslagbrood.

Blitsige witbrood

Ek loop al met dié resep in my kop omdat ek dit so baie bak. Ek kan nie onthou waar die oorspronklike resep vandaan kom nie, maar dis een wat jy maar kan uitskeur en hou. Dit werk elke keer en jy maak dit in 'n kits aan.

4 x 250 ml bruismeel

5 ml sout

500 ml karringmelk

30 ml heuning

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n middelslag-broodpan met botter. Sif die meel en sout saam. Meng die karringmelk en heuning goed en roer by die droë bestanddele. Skep in die pan en bak vir 1 uur tot gaar. Laat 10 minute in die pan afkoel en keer uit op 'n draadrak. Eet binne 2 dae. Lewer 1 middelslagbrood.

Bruin saad-en-neutbrood

'n Mengsel van dennepitte, sonneblom-, papawer- en sesamsaad werk lekker vir dié gesonde brood.

310 ml koekmeel

5 ml sout

10 ml bakpoeier

5 ml koeksoda

4 x 250 ml volkoringmeel ("Nutty Wheat")

310 ml semels

500 ml mengsel van gekapte neute en sade van jou keuse

500 ml ongegeurde jogurt

250 ml warm water

Voorverhit die oond tot 190 °C en smeer twee middelslag-broodpanne met botter of olie. Sif die meel, sout, bakpoeier en koeksoda saam in 'n groot bak. Voeg die volkoringmeel, semels en neut-en-saadmengsel by. Meng goed deur en maak 'n holte in die middel. Meng die jogurt en warm water goed en voeg by die droë bestanddele. Roer tot 'n sagte deeg vorm. Verdeel tussen die twee gesmeerde broodpanne en bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Laat effens in die panne afkoel voor jy dit uitkeer. Lewer twee middelslagbrode.

Kruiebrood

Ek het dié resep ontwikkel vir die resepteboek Onthaal. Dis 'n sagte, geurige witbrood en is ideaal om louwarm voor te sit. Dit hou egter nie lank nie - eet dit verkieslik binne twee dae op.

625 ml koekmeel

1 pakkie kitsgis

7 ml sout

2 ml koeksoda

60 ml warm water

30 ml gesmelte botter

1 houer (250 g) gladde maaskaas

1 groot eier

45-60 ml gemengde, vars kruie, fyn gekap

Meng die meel, gis, sout en koeksoda saam in 'n mengbak. Klits die warm water, botter, maaskaas en eier saam. Maak 'n holte in die middel van die droë bestanddele en voeg die maaskaasmengsel by. Meng tot 'n sagte, klam deeg. Voeg die kruie by. Knie die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties (sowat 10 minute). Sit in 'n goed geoliede mengbak, bedek losweg met kleefplastiek en laat rys op 'n warm plek tot dubbel die volume. Knie af, vorm ongeveer 8 bolletjies en pak losweg in 'n goed gesmeerde koek of broodpan van ongeveer 20 cm x 20 cm. Laat rys weer op 'n warm plek tot die pan vol is. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Bak die brood vir ongeveer 15 minute tot goudbruin en gaar. Laat effens afkoel, keer uit en sit louwarm voor. Lewer 1 middelslagbrood (genoeg vir 6-8 mense).

Landbouweekblad, 3 Augustus 2007.

Rotasie blok

 
0