|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Oondgebakte pasta verg 'n bietjie meer tyd en moeite as pasta en sous, maar die hemelse eindproduk maar dit oor en oor die moeite werd.
Lasagne met spinasie en spekvleis
3 pakke (300 g elk) spinasie, skoongemaak
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
olie
1 pak (250 g) spekvleis, gesnipper
10 ml koekmeelblom
250 ml room
2 wiele fetakaas, gekrummel
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1 pak lasagnevelle
250 ml gerasperde mozzarellakaas
60 ml gerasperde parmesaankaas
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak met botter. Giet 'n ketel kookwater oor die spinasie in 'n bak. Laat staan vir 30 sekondes, dreineer en spoel af met koue water. Laat afkoel en druk goed droog sodat daar nie meer water in die spinasie is nie. Kerf fyn en hou eenkant. Braai nou die uie en knoffel stadig in 'n bietjie olie tot sag. Voeg die spek by en braai tot gaar. Voeg die spinasie by en braai liggies tot deurwarm. Sprinkel die koekmeel oor en roer oor die hitte vir 'n paar sekondes. Voeg die room by. Roer tot die sous begin kook. Verwyder van die hitte en voeg die fetakaas by. Geur met sout en peper (pasop vir te veel sout die fetakaas is reeds baie sout). Pak 'n laag lasagnevelle onder in die oondbak. Skep 'n laag van die spinasiesous oor en pak weer lasagnevelle bo-op. Herhaal tot al die sous gebruik is (eindig met 'n laag sous). Meng die mozzarellakaas en parmesaan en sprinkel bo-oor. Bak vir 30 40 minute tot goudbruin en gaar. Sit voor met slaai.
Genoeg vir ses mense.
Macaroni met tamatie en spekvleis
30 ml olie
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
2 brandrissies, ontpit en gekap
1 pak repiespekvleis, gekap
2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
60 ml songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
sout, peper en suiker na smaak
300 400 g macaroni of penne
375 ml vars witbroodkrummels
250 ml mozzarellakaas
30 ml botter, gesmelt
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak met botter. Verhit die olie in 'n swaarboompot en braai die ui en knoffel stadig oor lae hitte tot sag, maar nie bruin. Voeg die brandrissies en spek by en braai tot die spek gaar is. Voeg die gekapte tamaties en songedroogde tamaties by. Verhit tot kookpunt en laat prut tot die sous effens afgekook en geurig is. Kook intussen die pasta in genoeg vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Dreineer. Meng met die tamatie- en speksous en skep in die oondbak. Meng die krummels, kaas en botter en sprinkel oor. Bak vir 30 minute tot goudbruin en gaar. Genoeg vir ses mense.
Lasagne met botterskorsie en gekarameliseerde uie
Botterskorsie
30 ml olie
10 ml komyn
5 ml fyn koljander
3 ml kaneel
1 middelslag botterskorsie, geskil, ontpit en in blokkies gesny
250 500 ml hoenderaftreksel
sout en peper na smaak
Gekarameliseerde uie
5 groot uie, fyn gekap
60 ml botter
45 ml suiker
sout en peper na smaak
250 ml room
125 ml melk
Pasta
1 pak lasagnevelle
250 ml gerasperde mozzarellakaas
1 wiel fetakaas, gekrummel
Verhit die olie vir die botterskorsie in 'n swaarboompot. Voeg die komyn en koljander by en braai tot geurig. Voeg die kaneel en botterskorsieblokkies by en braai tot die pampoen begin verkleur. Voeg 250 ml hoenderaftreksel by, verhit tot kookpunt, bedek en laat prut tot gaar. (As die pampoen begin droog kook, voeg nog aftreksel by.) Druk fyn met 'n aartappeldrukker en hou eenkant.
Braai die uie baie stadig oor lae hitte in die botter tot sag en geurig. Voeg die suiker by, verhoog die hitte en braai tot die uie begin karameliseer. Geur met sout en peper. Maak 'n mengsel van 125 ml room en 125 ml melk en voeg by die uie. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak met botter. Pak 'n laag lasagnevelle onder-in en skep 'n lagie van die uiemengsel bo-op. Volg op met 'n lagie botterskorsie en dan weer 'n laag lasagnevelle. Herhaal tot die bestanddele opgebruik is en eindig met 'n laag botterskorsie.
Sprinkel die mozzarella en fetakaas oor en bak vir 3040 minute tot goudbruin en die pasta sag is.
Genoeg vir ses mense.
Wenke
Die spekvleis in die spinasielasagne en macaroni gee 'n lekker geur aan die pasta, maar om dit meer ekonomies te maak of as jy vegetariese gaste het, kan dit uitgelaat word.
12 Maart 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24