|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Lente is die beste tyd om buite te eet alles is vars en groen en dis nog nie te warm nie. Pak 'n piekniekmandjie vol lekkernye en kry koers na 'n mooi plek op die plaas. Of gooi sommer 'n kombers onder 'n koelteboom in die tuin oop. Hier is 'n paar voorstelle vir maklike inpakeetgoed.
Hoenderfrikkadelle
4 hoenderborsies, fyn gekap
1 groen soetrissie, fyn gekap
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
60 ml fyngekapte pietersielie
2 rooi brandrissies, ontpit en gekap
Sout, peper en speserye na smaak
1 ekstra-groot eier, geklits
75 ml vars witbroodkrummels
10 ml fyn gerasperde suurlemoenskil
3 grasuie, gekap
Koekmeelblom
Olie, vir braai
Verwerk hoender, soetrissie, knoffel, pietersielie, brandrissies, geurmiddels, eier, broodkrummels, suurlemoenskil en grasuie saam in 'n voedselverwerker tot gemeng. (Moenie te lank meng nie, dit sal pap word.) Vorm bolletjies met meel bestrooide hande en druk effens plat. Braai in vlak olie tot goudbruin en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en laat afkoel. Sit voor met soet rissiesous of blatjang.
Lewer 12 frikkadelle.
Pastaslaai met jong groente
Soos met enige pastaslaai kan jy na hartelus improviseer. Voeg groente van jou keuse hierby of maak dit met 'n romerige sous (sien wenk).
300-400 g pasta van jou keuse (Strikke of skroefpasta en elmboogmacaroni werk goed.)
Olyfolie
1 pakkie groen olywe, gedreineer
1 kop broccoli, in klein blommetjies gesny en gestoom tot liggaar
1 groot pak kersietamaties, gehalveer
1 pak soet ertjiepeule ("sugar snaps")
100-200 g ricotta kaas, gekrummel
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Slaaisous
30 ml suiker
30 ml witwynasyn
30 ml lemmetjie- of suurlemoensap
10 ml fyngerasperde lemmetjie- of suurlemoenskil
100 ml olyfolie
Gekapte brandrissie óf fyngedrukte knoffel (opsioneel)
Sout en vars gemaalde swartpeper
Maak eers die slaaisous: Klits al die bestanddele goed saam en hou eenkant. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak tot gaar, maar steeds ferm. Dreineer en bedruip met die helfte van die slaaisous terwyl nog warm. Laat afkoel. Meng die groente en kaas liggies deur en geur die slaai met sout en peper.
WENK: Geur mayonnaise met fyngedrukte avokado en 'n handvol gekapte vars kruie, verdun effens met suurlemoen- of lemmetjiesap, en roer deur.
Soetrissiequiche
Deeg
60 ml koue botter, in blokkies gesny
125 ml gerasperde cheddarkaas
190 ml koekmeelblom
30 ml yswater
Vulsel
1 groot ui, in dun ringe gesny
3 groot soetrissies (1 geel, 1 groen en 1 rooi), in repies gesny vir braai
2 knoffelhuisies, gekap
2 wiele fetakaas, gekrummel
125 ml room
125 ml melk
2 ekstra-groot eiers, geklits
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Verwerk die botter, kaas en meel in 'n voedselverwerker tot gemeng en voeg die yswater bietjie vir bietjie by tot 'n deeg vorm. Bedek en verkoel vir 30 minute. Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer 'n losboom-tertbord van 25 cm met botter. Rol die deeg ongeveer 3 mm dik uit op 'n meelbestrooide oppervlak. Voer die tertbord daarmee uit en sny die rante netjies. Sit 'n vel bakpapier binne-in en vul met droë bone of rys. Bak vir 10 minute. Verwyder die bone of rys en die papier en bak vir nóg 5 minute. Haal uit die oond en verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C. Braai die uie en soetrissies stadig in olyfolie tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir 'n paar minute. Krummel die fetakaas oor en meng deur. Skep in die voorbereide tertkors. Klits die room, melk en eiers saam. Voeg geurmiddels na smaak by en giet oor die soetrissiemengsel. Bak vir 30-40 minute tot ferm en goudbruin. Laat afkoel en sit voor met koue vleise of slaai.
Lewer 1 middelslag-quiche.
Heerlike toebroodjievulsels
'n Interessante soort brood maak gewone toebroodjies ekstra lekker. Probeer Ciabata of foccacia, rogbrood of volgraanrolletjies.
Vars roket, songedroogde tamaties, kaas en ontpitte olywe.
Brosgebraaide spekvleis, uiemarmelade, brie en blaarslaai.
Ham, pikantrissies en mosterdmayonnaise.
Koue geroosterde hoender, knoffelmayonnaise en bronkors.
Tamatie, basielblare en mozzarellaskywe.
Gerookte snoek of salm, skywe avokado, roomkaas of mayonnaise en slaaiblare.
Dun skyfies gebraaide filet, heelkorrelmosterd, roketblare, tamatie en gebraaide uie.
Dun skyfies skaapboud, hummus (kekerertjie-patee), tamatie en uie.
Kaas, olywe, basielblare en salami.
Dik skywe ham, perske- of mangoblatjang, edamkaas en blaarslaai.
Varkworsies, gebraaide uie, mosterdslaai en sterk tamatiesalsa.
Soetgoed vir die piekniekmandjie
Handkos is die beste tipe poeding vir 'n piekniek. 'n Verskeidenheid vars vrugte en jogurt is 'n lekker ligte keuse. Vir iets meer dekadent, kies sjokoladebruintjies of tuisgemaakte fudge (enigiets wat nie sal smelt of waarvan die versiersel nie aan alles sal vassit of loperig of taai is nie).
Oliebolle
Meng 250 ml warm water, 15 g droë gis en 5 ml strooisuiker in 'n bakkie. Laat skuim vir 10 minute. Verroom intussen 220 g botter en 45 ml strooisuiker. Voeg 5 eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die gismengsel, 5 ml sout en 450 g koekmeelblom by en meng tot 'n deeg. Bedek en laat rys op 'n warm plek vir ongeveer 2 uur tot dubbel in volume. Knie die deeg af, bedek met plastiek en verkoel oornag. Knie op 'n meelbestrooide oppervlak en knyp stukkies deeg af. Braai in warm diep olie tot goudbruin en opgepof. Dreineer op kombuispapier. Maak versiersuiker en suurlemoensap aan tot 'n slap versiersel en rol die oliebolle daarin. Laat hard word op waspapier. Lewer ongeveer 25 oliebolle.
Aarbeie en room
Ryg vet, soet aarbeie aan sosatiestokkies en pak in. Geur yskoue room effens met strooisuiker en vanielje. Giet room onder-in glase en laat elkeen hulle aarbeie daarin doop.
Sjokoladebruintjies met gemmer en neute
Smelt 125 g botter en 60 g gekapte donker sjokolade saam. Roer gereeld. Klits 2 eiers en voeg 250 ml suiker geleidelik by. Klits baie goed tot lig en dik. Laat sjokolademengsel effens afkoel en voeg die eiermengsel by. Klits goed. Sif 180 ml koekmeelblom, 'n knippie sout en 2 ml bakpoeier oor. Vou in saam met 45 ml gekapte, ingelegde gemmer en 50 g gekapte neute. Meng goed. Skep in 'n gesmeerde, uitgevoerde pan van 30 cm x 20 cm en bak vir 20 minute teen 160 °C. Sny in blokkies wanneer effens afgekoel en sif versiersuiker of kakao oor.
Lewer 24 bruintjies.
15 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24