Piesang op vier maniere

Piesangs se kenmerkende geur maak dit onmisbaar in die kombuis. Ons maak poeding, slaai en blatjang daarmee en gee ook 'n rock-legende se gunsteling piesang-happie.

Piesangslaai vir kerrie

Dié slaai maak jy in 'n japtrap en is nommerpas by sterk kerrie of bobotie.

250 ml dik, natuurlike jogurt

5 ml mosterdpoeier

Knippie sout

3-4 groot, ferm piesangs, gesnipper

Skeut suurlemoensap

1 rooi brandrissie, fyn gekap

45 ml gekapte, vars koljander

Meng die jogurt, mosterdpoeier en sout saam. Voeg die piesangs en suurlemoensap by en meng liggies deur. Sprinkel die rissie en koljander oor en meng liggies net voor die slaai opgedien word. (Moenie die slaai té lank laat staan nie, maak dit verkieslik vars - 'n uur of wat voor ete.)

  • WENK: As jy nie van vars koljander se geur hou nie, laat dit weg en sprinkel geroosterde klapper oor die slaai.

    Piesang-en-klapperpoeding

    100 g botter

    180 ml ligte bruinsuiker

    3-4 piesangs

    Skeut suurlemoensap

    Bolaag

    250 ml koekmeel

    125 ml klapper

    10 ml bakpoeier

    80 ml suiker

    Knippie sout

    60 g botter

    1 eier

    180 ml melk

    Voorverhit die oond tot 180 °C. Smelt botter en suiker saam in 'n pan en giet die mengsel in 'n oondbak van 20 cm x 30 cm. Skil piesangs en sny in lang repe. Pak bo-op die botter-en-suikermengsel en druk 'n bietjie vars suurlemoensap daaroor uit.

    Vir die bolaag: Meng die droë bestanddele en vryf botter daarby in tot die mengsel soos growwe krummels lyk. Meng eier en melk, voeg by droë bestanddele en giet versigtig oor piesangs sodat dit egalig versprei is. Bak vir 35-45 minute tot liggoudbruin. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met roomys of vla. Genoeg vir agt mense.

    Vars piesangblatjang

    Piesangblatjang is heerlik by Indiese disse of geregte met 'n tropiese geur. Jy kook dit in 'n kits. Kyk onderaan die resep vir 'n paar geregte waarby jy dit gerus kan voorsit.

    4 groot, ferm piesangs

    60 ml gekapte, vars koljander

    Sap van ½ suurlemoen

    30 ml botter

    ½ ui, fyn gekap

    30 ml gerasperde, vars gemmer

    1 rooi brandrissie, gekap

    Knippie kaneel

    Knippie kardemom

    30 ml bruinsuiker

    5 ml sout

    180-250 ml water

    Skil en sny die piesangs in blokkies. Meng dit met die vars koljander en suurlemoensap. Verhit die botter in 'n kastrol en voeg die ui, gemmer, brandrissie, kaneel en kardemom by. Braai vir 'n paar sekondes. Voeg die piesang, suiker en sout by en braai tot die suiker gesmelt is. Voeg die water by en prut tot die piesang net begin sag raak. Pas die geurmiddels na smaak aan en sit louwarm of teen kamertemperatuur voor. Lewer sowat 500 ml blatjang.

    OPDIENVOORSTELLE

  • Rol visfilette in meel, dan in geklitste eier en dan in baie fyn gekapte makadamianeute. Braai tot goudbruin en bros en sit voor met piesangblatjang.
  • Marineer hoenderblokkies in 'n speserypasta (gemaak met Cajun- of Tandoori-speserye, 'n bietjie olie, jogurt en suurlemoensap. Ryg op stokkies met stukke vars pynappel. Braai oor die kole of oondrooster tot gaar en sit voor met piesangblatjang.
  • Sit voor by kerrietjops of bobotie.
  • Vul rotis met oorskiet-kerrie (maalvleis of blokkies vleis of hoender), sit vars koljander, 'n skep piesangblatjang en 'n skeppie suurroom of jogurt by. Vou toe en sit voor.

    Elvis-broodjies

    Volgens bronne kon Elvis Presley, die koning van rock, twaalf tot vyftien van dié broodjies op 'n slag verorber. En om dinge nóg geiler te maak, het hy dit in niks anders as varkvet gebraai nie!

    60 ml gladde grondboontjiebotter

    4 snye vars witbrood

    2 klein, ryp piesangs, fyn gedruk

    30 ml botter

    Smeer grondboontjiebotter op twee van die snye brood en smeer fyngedrukte piesang op die ander twee. Sit opmekaar en druk effens vas. Smelt die botter in 'n pan en braai elke broodjie tot goudbruin en bros aan albei kante. Eet warm. Genoeg vir twee mense.

  • Variasie: Vir 'n ékstra-lekker Elvis broodjie, sit twee repe gebraaide spekvleis bo-op die grondboontjiebotter en volg die resep soos hierbo.

    Landbouweekblad, 21 September 2007.

  • Rotasie blok

     
    0