Menu
 

ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)
9 Maart 2005

7225 keer gelees | 0 kommentaar


Daar is véél meer moontlikhede met wors as net oor diekole of in die pan gebraai. Dit gee heerlike geur aan oond-gebakte disse of roerbraai en maak mondwaterlekker partytjiehappies.

Varkworsie-en-rysdis
560 ml water
310 ml rou witrys
5 ml sout
10 ml olie
25 g gerookte varkworsies
1 groen soetrissie, gekap
1 rooi soetrissie, gekap
2 klein knoffelhuisies, fyn gedruk
215 ml hoenderaftreksel
2 ml vars gemaalde swartpeper
3 klein uitjies, baie dun gesny

Verhit 500 ml van die water tot kookpunt en voeg die rys en sout by. Kook tot gaar, dreineer en stoom vir 10 minute. Hou eenkant. Terwyl die rys kook, verhit die olie in 'n swaarboompot en braai die wors daarin tot goudbruin en gaar. Skep uit en laat effens afkoel. Sny dan in bytgrootte stukkies. Braai die soetrissies in dieselfde pot tot sag. Skep die wors terug, voeg die knoffel by en braai vir 'n paar minute tot geurig. Voeg die aftreksel, swartpeper, uitjies en res van die water by en verhit tot kookpunt. Laat prut tot die vloeistof amper afgekook is en 'n geurige sous in die pot vorm. Voeg die rys by en meng deur. Sit warm voor. Genoeg vir ses mense.

Beesvleisworsies met spek
20 klein beesvleisworsies (koop klein worsies of draai dit self van dun braaiwors)
1 pak swoerdlose repiespekvleis
45 ml Dijon-mosterd
20 stewige roosmaryntakkies
60 ml vrugteblatjang

Knip die worsies los van mekaar en druk droog met kombuispapier. Sny die spekvleisrespies effens korter (indien verkies) en smeer met 'n dun lagie mosterd. Draai 'n repie rondom elke worsie en steek dit vas met 'n roosmaryntakkie (sien wenk). Smeer elkeen met vrugteblatjang en braai oor die kole of rooster in die oond tot gaar. Eet net so warm of teen kamertemperatuur of met 'n doopsous as partytjiehappies.

Lewer 20 happies.

  • Wenk: Gebruik stewige roosmaryntakkies met taamlike dik steeltjies. Maak die onderkant effens skerp met 'n groentemes sodat dit maklik kan deursteek.

    Lasagne met wors, soetrissies en sampioene
    Dié lasagne neem wel 'n bietjie tyd om te maak, maar is werklik iets besonders. Wees op die uitkyk vir die gegeurde varkworsies wat deesdae te kry is. Ek het dit gemaak met varkworsies (wat met pikantrissies en vars kruie gegeur is) en Grabouw-boerewors, maar jy kan enige vars wors daarvoor gebruik.

    Vleissous
    450 g geurige wors (soos vark- en pikantrissiewors of Italiaanse speserywors)
    200 g beeswors (boerewors gee lekker geur)
    30 ml olie
    250 g sampioene, gesnipper
    2 uie, gekap
    3 knoffelhuisies, fyn gedruk
    10 ml vars roosmaryn, gekap
    Knippie droë rissievlokkies
    4 rooi soetrissies, dun gesny
    500 g tamaties, gekap
    30 ml balsamiese asyn

    Sampioensous
    60 ml botter
    500 g bruin sampioene
    60 ml koekmeelblom
    625 ml melk
    Sout, peper en neutmuskaat na smaak
    1 pak (250 g) lasagnevelle
    500 ml gerasperde mozzarellakaas
    250 ml gerasperde parmesaankaas

    Vir die vleissous: Druk die varkworsievleis uit die worsderms en doen dieselfde met die beeswors. Verhit die olie in 'n swaarboompot en braai die worsvleis stadig daarin tot gaar. Skep uit en hou eenkant. Braai sampioene in dieselfde pot tot gaar. Skep uit in dieselfde bak as die worsvleis. Braai die uie, knoffel, roosmaryn, rissievlokkies, sout en peper tot die uie sag is. Voeg die soetrissies en tamatie by, bedek en laat prut vir 20 minute tot gaar. Verpulp en roer die asyn by. Voeg by die worsmengsel en laat prut onbedek vir 10 minute.

    Vir die sampioensous: Smelt die botter en braai die sampioene daarin tot sag. Voeg die meel by en verhit tot kookpunt. Laat kook vir 'n paar sekondes en voeg die melk bietjie vir bietjie by terwyl geroer word. Verhit tot kookpunt en laat prut tot gaar. Geur na smaak met sout, peper en neutmuskaat. Voorverhit die oond tot 190 °C en smeer 'n oondbak. Pak 'n lagie lasagnevelle in die bak, skep 'n lagie van die vleissous bo-op, gevolg deur 'n lagie sampioensous. Pak weer 'n laag lasagnevelle bo-op en herhaal. Eindig met 'n lagie sampioensous en strooi die gerasperde kase bo-oor. Bak vir 35-40 minute of tot goudbruin. Laat staan vir 10 minute voor opdiening. Sit voor met korserige brood en 'n groen slaai. Genoeg vir agt mense.

    Ontbytgebak
    Ryk en romerig — dié ontbytskottel herinner aan broodpoeding, maar is sout en propvol kaas. Voeg nog ontbytbestanddele, soos sampioene en songedroogde tamaties, na smaak by.

    1 ui, gekap
    500 g geurige Italiaanse wors, soos salami, gesnipper
    125 ml pikantrissies, gekap
    10 ml vars tiemie, gekap
    850 ml melk
    6 eiers
    7 ml sout
    3 ml vars gemaalde swartpeper
    11 snye witbrood, korsies afgesny en in blokkies gesny
    125 ml gerasperde parmesaankaas
    250 ml gerasperde mozzarellakaas
    125 ml gekrummelde fetakaas
    Vars gekapte pietersielie

    Smeer 'n oondbak van 30 cm x 20 cm met botter. Braai die ui, wors en pikantrissies liggies oor lae hitte tot die ui sag en gaar is. Voeg die tiemie by, verwyder van die hitte en hou eenkant. Klits die melk, eiers, sout en peper saam. Meng die brood, kase en pietersielie in 'n groot bak. Voeg die ui- en worsmengsel by en meng liggies deur. Skep alles in die voorbereide oondbak, giet die melk- en eiermengsel oor en bedek. Verkoel vir minstens 1 uur. Voorverhit die oond tot 180 °C en bak vir 35-45 minute tot opgepof en goudbruin. Sit warm voor.

    Genoeg vir agt mense.

    11 Maart 2005

  • Kommentaar
    Slegs in Afrikaans

    Naam Kommentaar
    E-pos
    Tik in die nommers  

    Vind jou perfekte maat nou!

    Ek is 'n:
    Stel belang in:
    Ouderdom: tot
    Huidige
    Ligging:
    Wys net profiele met foto's

    Teken in vir die nuusbrief

    Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

    Lewende Hawe

    Soort 15/04/14 22/04/14 %
    Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
    Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
    Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
    Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
    Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

    Aandele