|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Ons sopresep is doodmaklik. En al lyk die pannekoek-resep baie ingewikkeld, is dit net so maklik en beslis die moeite werd!
Vullende groentesop
'n Stukkie vleis by die groente maak dié sop ons nommer een-keuse.
30 ml botter
3 beesskenkelbene
3 liter beesvleis-aftreksel
3 uie, opgekap
3 knoffelhuisies, gekneus
6 groot wortels, in ringe gesny
6 selderystingels, gekap
4 groot aartappels, geskil en gerasper
sout en peper na smaak
6 murgpampoentjies, in ringe gesny
1 blik (400 g) heel tamaties, met sap opgekap
vars pietersielie na smaak
Verhit botter in 'n sopkastrol en verbruin die skenkels daarin. Voeg al die aftreksel by en prut die vleis tot amper sag.
Voeg res van die bestanddele, behalwe die laaste vier, by.
Prut tot gaar. Geur met sout en peper na smaak. Voeg die murgpampoentjies en tamatie by en kook tot net sag.
Voeg pietersielie by.
Wenk: Vir 'n dikker sop kan jy die helfte van die gaar groente verpulp en dit weer by die res in die kastrol voeg.
Gevulde pannekoek
Dit is 'n ryk en vullende gereg.
Beslag
50 g ongesoute botter
2 eiers
200 ml volroom melk
200 ml koekmeel
sout en peper na smaak
15 ml vars sprietuie, gekap
15 ml vars pietersielie
olie en botter vir bak
Verhit botter tot dit skuim en neutbruin is en laat afkoel.
Plaas eiers, melk, meel, sout en peper in 'n voedselverwerker of versapper en meng vir een minuut. Voeg afgekoelde botter by.
Verpulp weer vir dertig sekondes. Voeg gekapte ui en pietersielie by. Bedek beslag met kleefplastiek en hou eenkant. Maak nou die vulsel.
Vulsel
40 g ongesoute botter
300 g spinasie (stingels verwyder, gewas en gedroog)
sout en peper
200 g knopie-sampioene, gekap
50 g sterk kaas, gerasper
Sous
400 ml klitsroom
gerasperde neutmuskaat
sout en peper
50 g gerasperde kaas
Kook spinasie met helfte van botter op hoë hitte vir sowat twee minute, roer gedurig. Geur met sout en peper. Druk water met agterkant van lepel uit spinasie.
Smelt res van botter en kook sampioene vir twee minute daarin. Geur.
Meng sampioene met spinasie en voeg kaas by. Hou eenkant.
Bak dun pannekoeke (jy moet minstens agt hê) in olie en botter so 15 - 20 sekondes aan 'n kant.
Stel oond op 200°C.
Vul pannekoeke met groente en rol styf op. Pak in 'n gesmeerde oondbak van so 25 tot 30 cm.
Maak die sous: Verhit die room tot rolkook-stadium. Voeg neutmuskaat en ander geurmiddels by. Giet oor pannekoeke en strooi dan kaas bo-oor.
Bak so 20 minute tot goudbruin in oond.
Variasie: Voeg spek by groente.
Of vul pannekoeke met oorskiet-maalvleis of enige ander fyngemaakte vleis.
18 Julie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24