|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
'n Skeppie warm poeding met roomys of vla span die kroon op 'n winter-ete.
Sago-vlapoeding
Trooskos uit die boonste rakke.
2 liter kookwater
150 ml sago
1 blik (397 g) kondensmelk
Knippie sout
5 ml vanieljegeursel
90 ml vlapoeier
60 ml melk
Laat die water weer kookpunt bereik in 'n groot kastrol. Voeg die sago by en kook vir ongeveer 30 minute tot die sago sag en deurskynend is. Verwyder van die hitte en voeg die kondensmelk, sout en vanieljegeursel by. Maak die vla en melk aan tot 'n pasta en roer 'n bietjie van die warm sagomengsel daarby. Skep alles terug in die kastrol en kook tot effens verdik en die poeding gaar proe. Sit warm voor met skinkroom. Genoeg vir tien mense.
Semolina-sitrus-poeding
Jy sal semolina by die koekmeel en semels op die winkelrakke kry. As jou naaste winkel dit nie aanhou nie, kan jy Tasty Wheat-ontbytpap vir dié resep gebruik.
1,25 liter (5 k) volroommelk
60 g botter
125 ml kookwater
280 ml semolina
180 ml strooisuiker
Sap en fyngerasperde skil van 1 lemoen
4 groot eiers
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak van 28 cm x 15 cm met botter. Verhit die melk, helfte van die botter en water saam in 'n groot kastrol tot kookpunt. Terwyl jy roer, sprinkel die semolina bietjie vir bietjie by die kokende melkmengsel. Hou aan roer tot al die semolina bygevoeg is en die pap begin prut. Voeg die suiker, res van die botter en lemoensap en -skil by en prut verder tot die pap gaar proe. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Skei die eiers en klits die gele saam. Voeg die eiergeel by die semolinapap en roer goed deur. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en vou by die pap in. Skep in die voorbereide bak en sit binne-in 'n warmwaterbad. Bak vir 35 minute tot goudbruin en ferm. Sit louwarm voor. Genoeg vir agt mense.
Sjokoladesous
200 g donker sjokolade
250 ml room
Smelt die sjokolade en room oor lae hitte saam. Roer tot glad en sit voor by die semolinapoeding.
Hanepootpoeding
Lekker soet, sit dus vla of room hierby voor.
250 ml koekmeel
Knippie sout
45 ml sagte botter
200 ml strooisuiker
1 eier
15 ml gladde appelkooskonfyt
250 ml melk
5 ml koeksoda
5 ml asyn
Stroop
200 ml botter
180 ml suiker
45 ml gouestroop
125 ml kookwater
Knippie sout
250 ml hanepoot
5 ml vanieljegeursel
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak met botter. Sif die meel en sout saam. Verroom die botter en strooisuiker goed saam en klits die eier en appelkooskonfyt hierby in. Meng die melk, koeksoda en asyn en roer by die bottermengsel saam met die droë bestanddele. Skep in die voorbereide bak. Skep die beslag in die gesmeerde bak en bak vir sowat 30 minute of tot die poeding goudbruin en deurgaar is. Maak intussen die stroop: Verhit al die bestanddele, behalwe die geursel, tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook vinnig vir ongeveer 5-7 minute. Verwyder van die hitte en roer die geursel by. Giet die kokende stroop oor die warm poeding sodra dit uit die oond kom. Sit warm voor. Genoeg vir ses mense.
Landbouweekblad, 27 Julie 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24