|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dink jy daaraan om 'n kombuistee vir 'n geliefde dogter of vriendin te hou? Put inspirasie uit dié uittreksel uit 'n nuwe onthaalboek wat jou vingers sal laat jeuk om te begin.
Spyskaart
Genoeg vir 18 mense
Kamma-troukoek (Aarbeimoussekoek)
Vrieskas-kaastert met sjerrie
Drie soorte korslose quiches
Ontwerperstoebroodjies
Meringues, geklopte room en vars vrugte
Vonkelwyn en witwynverfrissers
Werkmetode
1-2 dae vooraf
Die vorige aand
Voor die gaste opdaag
Kamma-troukoek
Net een van dié drielaagkoek se lae is eetbaar, maar die koek dien as fokuspunt op die tafel en is ook 'n tong-in-die-kies voorsmakie op die troukoeksny wat wag.
Aarbeimoussekoek
Die middelste laag van die kamma-troukoek is 'n aarbeimoussekoek. Maak die koek in die voedselverwerker aan en bak twee dae voor die tyd. Dit gee jou genoeg tyd om dit te vul en versier.
Karringmelkkoek
125 g botter
250 ml suiker
2 eiers
250 ml karringmelk
5 ml vanieljegeursel
500 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
Knippie sout
Aarbeimoussevulsel
2 houers (175 ml elk) gladde
aarbeijogurt
125 ml dik room, geklop
20 ml gelatien
45 ml koue water
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n losboomkoekpan van 24 cm. Voer uit met bakpapier. Verroom die botter en suiker goed en voeg die eiers een vir een by. Klits die karringmelk en vanieljegeursel by. Sif die meel, bakpoeier en sout oor en meng goed. Skep in die pan en bak vir 30 minute tot gaar. Vir die vulsel: Skep die jogurt in 'n mengbak en vou die geklopte room in. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 10 minute. Los op oor kookwater of in die mikrogolfoond. Roer tot dit heeltemal glad is. Voeg by die jogurtmengsel, vou in en verkoel tot amper stewig, maar steeds smeerbaar. Sny die koek in dunner lagies. Sit die onderste laag terug in die koekpan en smeer van die jogurtmengsel oor. Herhaal tot al die lagies koek en jogurtmousse gebruik is. Sit oornag in die yskas tot gestol. Keer uit en versier.
Vrieskas-kaastert met sjerrie
Die goue middeweg tussen kaaskoek en cassata.
60 ml sagte botter
60 ml versiersuiker
200 g (1 houer) ongegeurde roomkaas
200 g (1 houer) geroomde maaskaas
5 ml vanieljegeursel
1 ml kaneel
50 g (½ pakkie) pekanneute, fyn gekap
125 ml gesnipperde groenvyekonserf
1 pakkie (200 g) Tennisbeskuitjies
125 ml sjerrie
Verroom die botter en versiersuiker tot glad. Klits eers die roomkaas by en wanneer dit goed gemeng is, ook die maaskaas, vanieljegeursel en kaneel. Sit in die yskas tot die mengsel effens stewiger is. Roer die neute en konserf by. Verkoel vir 30 minute tot stewig. Sit 'n groot stuk aluminiumfoelie op 'n bakplaat neer. Doop ses Tennisbeskuitjies een vir een vinnig in sjerrie. Pak in 'n ry in die middel van die foelie. Herhaal met nog ses be-skuitjies en pak dit aan die linkerkant. Doen dieselfde aan die regterkant van die oorspronklike ry beskuitjies. Vou nou die kante van die foelie toe sodat die middelste ry van die beskuitjies die basis vorm en die beskuitjies weerskante die twee sye van 'n driehoek. Vou ook die oop kante van die foelie stewig toe sodat die vulsel nie uitloop nie. Vries tot hard. Net voor opdiening, rol die hele driehoek in klapper. Sny in skywe soos benodig en vries die res.
Ontwerpers-toebroodjies
Maak toebroodjies met enige van die vulsels hieronder net voor die partytjie. Sny brood in vingers, driehoeke of druk vorms uit met koekiedrukkers. Smeer een van die kante met botter of roomkaas en druk in geroosterde sesamsade of gekapte neute.
Vulsels
Korslose quiche
Dis 'n groot resep, maar die oorskiet is die volgende dag heerlik met 'n slaai van roket, oondgeroosterde kersietamaties en skaafsels parmesaankaas.
2 uie, baie fyn gekap
250 g botter
250 ml koekmeel
1 liter warm melk
10 ml aangemaakte mosterd
250 ml gerasperde beleë cheddar
Sout en peper na smaak
4 eiers, geskei
Vulsel 1
6 songedroogde tamaties in vinaigrette
30-45 ml gekapte kruie, soos basiel, oregano of roket
Vulsel 2
100 g skyfies ham, gekap
40 g bloukaas, gekrummel
Vulsel 3
6 vars aspersielote, gekap
10 ml botter
125 ml bevrore ertjies
45 ml gekapte vars pietersielie
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer die holtes van 'n paar mini-muffinpanne met olie. Bestuif met meel en hou eenkant. Braai die uie stadig in die botter tot sag. Hou die hitte laag sodat die botter nie verkleur nie. Voeg die meel by en verhit tot kookpunt, terwyl jy roer. Laat borrel vir 2-3 minute. Voeg die melk by en verhit tot kookpunt terwyl jy aanhou roer tot die mengsel dik en gaar is. Haal van die plaat af en roer die mosterd en kaas by. Laat effens afkoel en maak intussen die vulsels.
Vulsel 1: Kap die tamaties en kruie saam tot baie fyn en maal ekstra swartpeper oor.
Vulsel 2: Meng die gekapte ham en bloukaas saam.
Vulsel 3: Braai die aspersiestukkies in die botter, voeg die ertjies by en bedek. Verhit tot sag. Roer die pietersielie by.
Sodra die mengsel koud genoeg is, klits die eiergele by. Klits die eierwitte styf en vou ook in. Verdeel die mengsel in drie gelyke dele en roer een van die vulsels by elke deel. Skep in die holtes van die mini-muffinpanne en bak vir ongeveer 15 minute tot ferm. Laat effens afkoel en haal uit die pannetjies. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met pesto, suurroom en kruie bo-op. Lewer 70 tertjies.
Meringues
Lewer sowat 48 meringues.
4 eierwitte, teen kamertemperatuur
10 ml suurlemoensap
Knippie sout
310 ml strooisuiker
60 ml versiersuiker
80 ml mielieblom
Paar druppels pienk kleursel
Silwer balletjies
Voorverhit die oond tot 120 °C. Smeer twee groot bakplate en bestuif met mielieblom. Meng die eierwitte, suurlemoensap en sout in 'n bak. Klits tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by terwyl jy klits tot styf en blink. Sif die versiersuiker en mielieblom oor en vou in. Halveer en kleur die een helfte ligpienk. Skep teelepelsvol van die twee mengsels op die bakplate. Sprinkel 'n paar silwer balletjies oor. Bak vir 60-90 minute. Skakel die oond af en laat die meringues in die lou oond afkoel.
'n Paar dinge om in gedagte te hou
Onthaal, die debuutboek van Arina du Plessis, kosredakteur van Landbouweekblad, en die vryskutstilis Wilma Howells, gee 'n vars kykie op al die fasette van modern onthaal. Hetsy jy 'n gesoute gasvrou of 'n onseker groentjie is, dié boek gee raad met beplanning én voorbereiding - van uitnodigings, atmosfeerskepping met tafelversiering, volledige spyskaarte met onweerstaanbare resepte en slim planne om tyd te spaar. Dié boek sal 'n onmisbare bron van inspirasie en hulp vir die gasvrou wees om enige spesiale geleentheid - van 'n skemerkelk of temaparty vir vriende tot 'n intieme troue of 'n spesiale verjaarsdagviering - met selfvertroue aan te bied. Deur eenvoudige resepte met goeie beplanning te kombineer, word ligte werk gemaak van die sleurwerk van spyskaartkeuses en kosmaak. Uit die mond van die skrywers: "In dié boek wys ons onthaal gaan oor die lekker dinge in die lewe. Oor vriende, saamwees, lag en gesels, eet en drink. Dit kan so groot of intiem, oordadig of eenvoudig, deftig of informeel wees soos jy dit wil hê."
Dié boek is ook in Engels beskikbaar as Entertain en kos R250.
.
WEN WEN WEN
Vyf Landbouweekblad-lesers kan elk 'n eksemplaar van Onthaal wen. Om in aanmerking te kom, stuur jou naam en van, volledige adres en kontaknommer vóór 31 Oktober 2006 na Landbouweekblad/Onthaal-weggee, Posbus 1802, Kaapstad 8000.
Nooi gaste met kombuissponsies (wat by jou kleurskema pas) waarom die uitnodiging gedraai is.
Vir 18 gaste, koop vier bottels vonkelwyn en hou op ys. Om witwynverfrissers te maak, gooi wynglase halfvol semidroë witwyn en vul met sodawater. Rond af met 'n skyfie suurlemoen.
Koop 'n pakkie saadkoevertjies by 'n skryfbehoeftewinkel en vul elke koevert met skryflekkers waarop harte en woorde gedruk is. Plak toe, versier met papierknipsels en rond af met 'n silwer plakker. Gee dit vir gaste om saam te neem huis toe.
Maak die tafel die fokuspunt. Drapeer dit in tulle, versier met roosknoppe en lint en sprinkel roosblare rondom. Maak 'n kamma-troukoek op die een hoek staan vir hoogte en as 'n fokuspunt en pak die res van die happies uit op mooi opdienborde en staanders. Vergeet van die tradisionele "bordjie soet en bordjie sout"; eksperimenteer met smullekker vars variasies en vorms.
Niemand verwag dat die bruid se ma of die strooimeisies alleen die koste vir die kombuistee moet dra nie. Moenie sleg voel om vir 'n klein geldelike bydrae vir die eetgoed te vra nie. Maak 'n oorgetrekte boksie êrens staan waarin gaste hulle bydraes kan sit.
Landbouweekblad, 6 Oktober 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24