|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Daar is min dinge so lekker (en so goed vir jou) as 'n ordentlike ontbyt. Tog is dit die ete wat ons die maklikste afskeep of sommer geheel en al oorslaan. Met die hulp van dié maklike resepte is daar geen verskoning meer nie. Dit is boonop gewaarborg om jou ál die woema te gee wat nodig is vir die dag wat wag.
Tuisgemaakte muesli
Maak dié muesli vooraf en bêre in 'n lugdigte houer. Geniet dit met jogurt, melk of vrugteslaai.
Voorverhit die oond tot 145 °C en smeer 'n oondbak met botter. Meng die hawermout, neute, klapper, sonneblomsaad en sout saam. Smelt die botter en heuning saam en giet oor die droë bestanddele in die bak. Werk dit met jou hande deur tot goed gemeng. Bak vir ongeveer 20-25 minute tot goudbruin. Roer elke nou en dan. Roer die droëvrugte by en laat afkoel.
Lewer ongeveer 1,5 liter muesli.
Wenk: Jy kan die muesli teen 120 °C bak vir 30 minute. Dan word dit nie so donker nie.
Muesli-en-jogurtglasies
Skep 'n paar lepels tuisgemaakte muesli onder-in klein sapglasies. Skep 'n paar lepels jogurt bo-op en rond af met vrugteslaai. Sit vóór 'n gebraaide ontbyt voor.
Ontbytdrankies
Smoothies, soos die Engelse dit noem, is lankal 'n gonswoord en jy sien dit deesdae oral op spyskaarte. Dit is 'n gesonde drankie van vrugte, sap en jogurt en net die ding as die honger knaag, maar die tyd skraps is. Gebruik enige vrugte en -sap wat jy in die huis het.
Piesang-kiwi-en-mangodrankie
Snipper 2 ryp piesangs en 2 geskilde kiwivrugte in 'n versapper. Voeg 90 ml jogurt (ongegeur of vrugtegeur) by en ongeveer 250 ml mangosap. (Jy kan meer sap byvoeg as jy 'n dunner drankie verkies). Verpulp tot glad en giet in glase. Geniet dadelik.
Winterontbytdrankie
Skil 'n pomelo dik en sny in segmente. Plaas die segmente saam met 1 gesnipperde piesang in 'n voedselverwerker en voeg 90 ml jogurt, 5 ml heuning en 250 ml lemoensap by. Verpulp tot glad, skink in glase en geniet.
Bêrebeslag-muffins
Dié gewilde resep het oor die jare heen in 'n paar tydskrifte verskyn. Onlangs het ek weer navrae daarvoor ontvang. Dié muffinmengsel kan tot 30 dae in 'n lugdigte houer in die yskas gebêre word. Dit word dan gebak, soos benodig. Die resep lewer 'n groot klomp beslag, maar kan maklik gehalveer word, indien verkies.
Klits die eiers, olie en bruinsuiker saam. Voeg die res van die bestanddele by en meng baie liggies tot alles net gemeng is. Giet die mengsel in 'n lugdigte houer en plaas dit oornag in die yskas. Skep die beslag in 'n gesmeerde muffinpan (of voer holtes uit met papierkoppies) en bak vir 20-25 minute in 'n voorverhitte oond teen 180 °C tot deurgaar. Sit warm voor met botter. Die hele beslag lewer ongeveer 48 muffins.
Omelet
Verhit 'n bietjie olie in 'n pannekoekpan van 20 cm. Klits die eiers, water, geurmiddels en kruie saam. Giet die helfte van die eiermengsel in die pan en verhit stadig oor matige hitte tot goudbruin onder en amper gestol bo-op. Skep die vulsel op die een helfte van die omelet en vou die ander helfte oor die vulsel. Laat gly uit op 'n bord. Herhaal met die orige eiermengsel. Sit voor met geroosterde tamatie en roosterbrood. Lewer twee omelette.
Spinasie-en-fetavulsel
Was 300 g spinasie en stoom tot verlep. Druk alle vog uit en kap fyn. Hou eenkant. Smelt 30 ml botter en voeg 30 ml meel by. Verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk geleidelik by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Geur met sout en peper. Prut liggies tot verdik en gaar. Voeg die spinasie by en krummel twee wiele fetakaas by. Skep op die omelette. Genoeg vir 2 omelette.
Spekvleis-en-sampioenvulsel
Snipper ½ pak spek en braai dit saam met 1 fyngedrukte knoffelhuisie tot gaar. Voeg 125 g gesnipperde sampioene by en braai tot gaar. Geur met sout en peper. Sprinkel 30 ml koekmeelblom oor en verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut tot verdik en gaar. Skep op die omelette, rasper cheddarkaas oor en vou toe. Sit dadelik voor. Genoeg vir 2 omelette.
Biltong-en-bloukaasvulsel
Kap 1 ui fyn en braai in 30 ml botter tot sag. Voeg 250 ml klam biltongflenters by en braai tot net-net deurwarm. Verwyder van die hitte en krummel 50 g bloukaas by. Geur met sout, vars gemaalde swartpeper en vars pietersielie of tiemie. Skep op die omelette, vou toe en sit voor. Genoeg vir 2 omelette.
29 April 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24