|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dis Februarie en die liefde vier hoogty. Laat sy hart fladder dié Valentynsdag met verleidelike eetgoed, blospienk vonkelwyn en jou onverdeelde aandag.
Hartediefkoekies
180 ml strooisuiker
210 ml sagte botter
1 groot eiergeel
560 ml meel
2 ml sout
125 ml dik aarbeikonfyt
Verroom die strooisuiker en botter tot lig en romerig. Klits die eiergeel by. Sif die meel en sout bo-oor en meng tot 'n deeg. (Die deeg is baie sag, dus is dit die maklikste om dit tussen velle waspapier uit te rol.) Verdeel die deeg in vier dele en rol al die dele tussen waspapier uit tot ongeveer 4 mm. Plaas die uitgerolde deegblokke op 'n kapplank of skinkbord om makliker te hanteer en plaas in die vrieskas vir 30 minute.
Voorverhit die oond by 180 °. Haal een van die vierkante uit die vrieskas en plaas dit op 'n werksoppervlak. Verwyder die waspapier. Sny die deegblok met 'n liniaal en mes in eweredige reghoeke van 90 mm x 50 mm en rangskik op 'n gesmeerde bakplaat. Bak vir 10 minute of tot goudbruin en plaas die koekies op 'n afkoelrak. Herhaal dié proses met een van die blokke deeg in die yskas. Rol en sny die laaste twee blokke uit nes die vorige koekies, maar druk eers klein hartvormpies uit (sien foto) voordat dit ook vir 10 minute op 'n slag gebak word. Onthou om nie die hartjievorms te na aan die kant te maak nie, anders mag die koekies breek. Smeer nou die onderste laag koekie met aarbeikonfyt en druk die uitgedrukte koekie op elk. Sif versiersuiker bo-oor en sit voor. Lewer 12-15 koekies.
Vingerhappie-quiches
Broskorsdeeg
250 ml koekmeelblom
2 ml sout
200 ml koue botter, in blokkies gesny
1 eiergeel
60 ml yskoue water
Vulsel
100 g sampioene, gesnipper
30 g botter
25 ml vars orego, gekap
250 ml room
2 eiergele
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
45 ml Parmesaankaas, gerasper
Sif die meel en sout saam en vryf die botter in die meelmengsel met vingerpunte totdat dit lyk soos growwe krummels. Klits eiergeel en water saam en roer met 'n mespunt by die meelmengsel. Druk die meelmengsel saam totdat dit 'n bal vorm, druk effens plat en bedek met kleefplastiek. Bêre in die yskas vir 20 minute. Voorverhit die oond tot 200 °. Braai intussen die sampioene in verhitte botter tot sag en gaar. Geur met sout, peper en gekapte orego. Meng room en eiergele saam. Rol verkoelde deeg uit en druk dit in quichevormpies. Plaas die vormpies weer in die yskas vir 'n paar minute. Blindbak die quichevormpies in die voorverhitte oond vir 10 minute. Verwyder bakpapier en boontjies en bak vir nog 2 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 180 °C en vul die blindgebakte tertkorse met sampioene. Vul laastens met roommengsel en bak vir 20 minute of tot goudbruin en ferm. Verwyder uit quichevormpies en rond af met vars oreganoblare. Lewer 15 klein quiches.
Toebroodjies met beethummus
Hummus is 'n heerlike smeer wat tradisioneel van kekerertjies en olyfolie gemaak word. Ons het beet bygevoeg om by die kleur van ons tema aan te pas. Probeer dit gerus as toebroodjiesmeer of doopsous. Met joghurt gemeng kan dit selfs as koue somersop voorgesit word.
1 blik kekerertjies, gedreineer
2 knoffelhuisies, fyngedruk
Varsgemaalde swartpeper na smaak
60 ml Olyfolie
8-10 klein gaar bete, geskil
6 snye witbrood, sonder korsies
Sagte botter
Plaas die eerste 6 bestanddele in 'n voedselverwerker en pols tot fyn. Smeer die brood met sagte botter en smeer 3 snye egalig met die beet-hummus. Plaas die ander 3 snye bo-op en sny. Sit dadelik voor.
Dekadente truffels
300 g donker sjokolade, gekap
200 ml dik room
50 ml botter
30 ml brandewyn
200 g wit sjokolade, gekap
Verhit die donker sjokolade, botter en dik room oor baie lae hitte tot gesmelt. Roer gereeld. Roer brandewyn daarby en laat stol in yskas. Vorm klein balletjies en rol glad. Indien die sjokolade te sag raak kan dit weer in die yskas geplaas word tot gestol. Smelt intussen die wit sjokolade en doop die balletjies daarin. Rond af met kleursprinkels, gekapte neute of laat dit hard word en versier met gesmelte sjokolade. Lewer 20 truffels.
Pienk yslollies
Maak 'n mengsel van jou gunsteling bessiesap, vonkelwyn en koeldrank. (Jy kan bessielikeur of drank soos vodka of jenewer ook byvoeg. Rangskik vars bessies in geskikte plastiekhouers en druk 'n roomysstokkie daarin, sodat dit regop staan. Vul met die sapmengsel en vries tot hard. Om los te kry, druk die houertjie vinnig in kookwater of laat staan 'n rukkie buite. Trek dan die lollie aan die stokkie uit.
Individuele sjokolade-roomkoekies.
Maak 'n basiese sjokoladesponskoek en sny dit in dunner lagies. Gee dan vrye teuels aan jou verbeelding met die mooimaakslag. Ons het sjokoladekrae omgesit en die holtes gevul met sjokolademouusse en vanieljegegeurde room. Bo-op is vars somerbessies en gesifte versiersuiker.
3 eiers
250 ml suiker
180 ml water
20 ml botter
250 ml kioekmeelblom
15 ml mielieblom
Knippie sout
5 ml bakpoeier
5 ml vanielje
Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer 'n koekpan van 200 x 200 cm. Klits eiers en suiker vir 10 minute. Verhit water en botter in 'n kastrol. Sif meel, mielieblom en sout twee tot drie keer saam. Sif dit oor die eiermengsel ( moenie roer nie). Strooi dan die bakpoeier oor en voeg die vanieljegeursel by. Roer baie goed en giet in die voorbereide koekpan. Bak vir 20 minute tot gaar.
Maklike sjokolademousse: Smelt 200 g donker sjokolade van goeie gehalte en 250 ml vars room oor lae hitte tot glad. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Klits 2 ekstra-groot eierwitte tot stywe punte vorm. Voeg 60 ml strooisuiker
lepelsgewys by, terwyl jy klits, tot die mengsel dik en blink is. Vou dié mengsel versigtig by die sjokolademengsel in. Verkoel tot gestol.
Om sjokoladekrae te maak:
Smelt gekapte sjokolade oor baie lae hitte tot glad. Meet die omtrek van die koek waarvoor jy die kraag maak en sny 'n reep bakpapier of foelie van dieselfde lengte. Smeer die sjokolade egalig daaroor. Laat afkoel tot ferm genoeg om op te tel en om die koek te draai. Laat heeltemal hard word en trek die papier of foelie versigtig af.
11 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24