|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Boerpampoen en botterskorsie, bruin gebak of bros gebraai, sê vir my: Dis herfs. Pampoen is 'n groente wat jy met enige geur kan kombineer en op so baie maniere kan gebruik - dis soet of sout ewe lekker en werk net so goed in poeding as in pasta en sop.
Pampoenpoffers met karamelsous
Dié is eintlik te lekker om 'n bykos te wees. As jy nie lus is om die sous te maak nie, druk suurlemoensap oor die gaar poffertjies uit en besprinkel met kaneelsuiker.
250 ml gaar pampoen, goed fyn gedruk
1 ekstra-groot eier
1 ml sout
30 ml kaneelsuiker
60 ml melk
10 ml bakpoeier
250 ml koekmeel
Olie, vir braai
Sous
250 ml suiker
15 ml botter
80 ml kookwater
180 ml warm melk
80 ml koue water
15-20 ml vlapoeier
1 ml sout
5 ml vanielje- of karamelgeursel
Poffertjies: Meng die pampoenmoes, eier, sout, kaneelsuiker en melk saam. Sif die meel en bakpoeier en roer die pampoenmengsel by. Braai teelepelsvol in vlak olie tot bros en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en hou eenkant warm. Sous: Verhit die suiker, botter en kookwater saam oor lae hitte tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut tot karamelkleurig. Roer die melk by en laat weer opkook. Meng die koue water, vlapoeier en sout tot 'n gladde pasta en voeg by die melkmengsel. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Laat saggies prut tot die sous effens verdik is. Verwyder van die hitte en roer die geursel by. Skep die sous oor die poffertjies en sit voor. Lewer ongeveer 35 poffertjies.
Foccacia met geroosterde groente en bokmelkkaas
Jy sal foccacia by die meeste winkels te koop kry - en as jy nie gereeld by die winkels uitkom nie, koop twee of drie wanneer jy daar is en vries dit vir later. Dié brood is lekker vir 'n ligte middagete saam met 'n groen slaai en ideale piekniekkos, want dis louwarm of koud ewe lekker.
30 ml botter
250 g salotte of piekeluie, geskil en gehalveer
500 g pampoen- of botterskorsieblokkies
1 groot foccacia
Sout, swartpeper en olyfolie
1 rolletjie (100 g) bokmelkkaas
Vars kruie, soos salie of tiemieblaartjies
Ekstra olyfolie en balsamiese asyn
Voorverhit die oond tot 190 °C. Smelt die botter in 'n groot pan en braai die uie stadig oor lae hitte tot goudbruin en sag. Terwyl die salotte braai, stoom pampoenblokkies in die mikrogolf tot net-net sag (dit neem ongeveer vyf minute). Pak die uie en pampoen bo-op die foccacia, geur met sout en peper en bedruip met olyfolie. Sny die bokmelkkaas in stukkies en sprinkel bo-oor. Bak vir ongeveer 10-15 minute of tot die kaas gesmelt en die pampoen goudbruin is. Sprinkel die kruie oor sodra die brood uit die oond kom en bedruip liggies met nog 'n bietjie olyfolie en met balsamiese asyn. Genoeg vir 10-12 mense.
Herfspasta
Botterskorsie, spekvleis, bloukaas en spinasie met geroosterde dennepitte op (verkieslik) tuisgemaakte pasta. Ek braai die bestanddele altyd in 'n groot wok. Dis dan baie makliker om die pasta en spinasie deur te meng sonder om die botterskorsie pap te druk.
500 g pasta van jou keuse
1 pak (250 g) repiespek, gesnipper
500 g botterskorsieblokkies
1 pak (300 g) Engelse spinasie (baba-spinasie)v
Handvol dennepitte, liggies gerooster
Sout en swartpeper na smaak
100 g bloukaas, grof gekrummel
Kook die pasta in 'n groot pot soutwater met 'n skeut olie by tot net-net sag. Braai intussen die spekstukkies in 'n groot pan (of wok) bros. Terwyl die spek braai, stoom die botterskorsieblokkies vir ongeveer 3 minute in die mikrogolf. Haal uit die voeg by die spek in die pan. Braai tot goudbruin en gaar. Voeg die dennepitte by en verwyder van die hitte. Dreineer die pasta en voeg die kokende pasta saam met die spinasieblare by die botterskorsie-en-spekmengsel. Meng versigtig deur sodat die hitte en stoom die spinasie laat verlep. Voeg laaste die bloukaas by en geur met sout en peper. Sit dadelik voor. Genoeg vir ses mense.
Pampoenpuree met geure van Noord-Afrika
Amper soos fynaartappel, maar die kleur en geur hiervan sal 'n vaal bord vinnig opkikker. Sit dit voor met geroosterde vark, lamsvleis of selfs by steak.
1 kg pampoenblokkies
10 ml komyn
5 ml fyn koljander
Olyfolie
180 ml warm melk
100 g botter
Sout en peper na smaak
45 ml gerasperde gruyere of Parmesaankaas
Voorverhit die oond tot 200 °C. Gooi die pampoenblokkies in 'n oondbak en sprinkel die speserye oor. Drup 'n bietjie olyf-olie oor en meng deur met jou hande. Trek 'n vel aluminiumfoelie oor die oondbak en bak vir ongeveer 40 minute tot sag. Keer alles uit in 'n groot kastrol en voeg die melk en botter by. Druk goed fyn en geur met sout en peper. Roer die Parmesaankaas by en sit dadelik voor. Genoeg vir vier tot ses mense.
Vinnige pampoenvulsel
Gebruik om pannekoek of vars pasta te vul, om die heerlikste pampoen-lasagne te maak of bak dit eenvoudig tot ferm en sit voor as bykos.
500 g pampoenblokkies
Olyfolie, sout en peper na smaak
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
1 ekstra-groot eier
500 g ricotta
Voorverhit die oond tot 180 °C. Besprinkel die pamoenblokkies met die olie, sout en peper, bedek met foelie en bak tot baie sag. Laat afkoel en druk fyn. Meng die pampoenmoes met die suurlemoenskil, eier en ricotta en gebruik soos hierbo beskryf.
Landbouweekblad, 16 Maart 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24