|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Patat- en kekerertjiesop
30 ml olyfolie
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
5 ml fyn koljander
3 ml komyn
1 ml gemaalde, droë rissies
2 middelslag patats, geskil en in klein blokkies gesny
8 middelslag wortels, geskraap en gekap
1,5 liter hoenderaftreksel
1 blik (410 g) kekerertjies, gedreineer
Sap van ½ suurlemoen
Sout en peper na smaak
Verhit die olie in 'n groot pot en braai die ui en knoffel tot sag. Voeg die speserye by en braai vir een minuut. Voeg die patat en wortel by en braai vir vyf minute. Voeg die aftreksel by en verhit tot kookpunt. Bedek en kook tot die patat baie sag is.
Voeg die kekerertjies by en prut vir nog 20 minute. Verpulp tot glad en geur met suurlemoensap, sout en peper. Roer 'n paar lepels room deur, indien verkies, en sit voor met geroosterde Franse brood of croutons. Genoeg vir agt mense.
Patatquiche
Tertkors
375 ml koekmeel
2 ml sout
100 g koue botterblokkies
Ongeveer 60 ml yswater
Vulsel
250 g klein patatblokkies
1 rooi soetrissie, in repies gesny
5 ml sout
30 ml olyfolie
1 rolletjie bokmelkkaas, in wiele gesny
2 eiers
125 ml room
60 ml melk
Sout en peper
Maak die tertkors:
Sif die meel en sout saam en vryf die botter met jou vingers
in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Sny die yswater in tot klam krummels vorm wat aan mekaar begin vassit. Druk die krummels saam in 'n bal deeg en draai toe in kleefplastiek. Verkoel vir minstens 30 minute.
Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak en voer 'n losboom-tertbord van 30cm x18 cm daarmee uit. Vul met bakpapier en droë bone en bak blind vir 10 tot 15 minute. Haal die papier en bone uit en bak vir 'n verdure 5 tot 10 minute. Hou eenkant.
Voorverhit die oond tot 200?C. Sit die patat en soetrissie in 'n oondbak, geur met sout en drup olyfolie oor. Oondrooster tot goudbruin en gaar. Skep in die tertdop en pak bokmelkkaas bo-op. Klits die eier, room, melk, sout en peper saam. Giet bo-oor en bak vir 15 tot 20 minute tot goudbruin en ferm.
Om voor te sit:
Stapel roketblare bo-op, drup olyfolie oor en geur met swartpeper. Sit louwarm voor. Genoeg vir agt mense.
Heel geroosterde soetpatats met botter en balsamiekstroop
4 heel patats, goed geskrop
30 ml olyfolie
Growwe sout
125 ml balsamiese asyn
45 ml bruinsuiker
Botter
Voorverhit die oond tot 190?C. Vryf die patats met olyfolie en sout in en sit in 'n gesmeerde oondbak. Bak vir 50 tot 60 minute tot sag (die baktyd sal verskil na gelang van
die grootte en dikte van die patats).
Verhit die balsamiese asyn en bruinsuiker saam
tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook af tot 'n ligte stroop vorm. Sodra die patats sag is, rol dit liggies in 'n vatlap of vadoek (dit maak die binnekant donsig
en sag) en maak 'n snit bo-op elk. Druk die patats met twee hande onder die snit (sodat dit effens oopvou) en smeer botter binne-in. Drup 'n bietjie balsamiekstroop oor en geniet. Genoeg vir vier mense.
Herderspastei met patat bolaag
4 groot patats, geskil en in blokkies gesny
2 uie, baie fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 kg beesmaalvleis
30 ml bruin uiesoppoeier
375 ml water
15 ml worcestersous
60 ml tamatiesous
Sout en peper na smaak
Warm melk en botter, vir die patatbolaag
Voorverhit die oond tot 190?C. Kook die patats in 'n groot pot soutwater tot sag. Terwyl die patats kook, braai die uie en
knoffel saam tot sag. Voeg die maalvleis by en braai bruin. Sprinkel die uiesoppoeier bo-oor en roer deur.
Voeg die water, worcestersous en tamatiesous by en verhit
tot kookpunt. Prut vir ongeveer 20 minute tot gaar en dik. Sodra die patats gaar is, druk dit fyn met warm melk en botter. Geur met sout en peper. Verdeel die vleis tussen
6 tot 8 individuele bakkies en skep die patatmengsel bo-op elk. Bak vir 20-30 minute en sit voor met slaai of groente. Genoeg
vir 6 tot 8 mense.
Landbouweekblad, 6 Junie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24