Wat is 'n kombuis sonder knoffel?

Afgesien daarvan dat dit oor magiese kragte beskik wat kieme en vampiere kan weghou, is dit in die kospotte waar knoffel wérklik onmisbaar is. Ek sukkel om my voor te stel dat 'n mens daarsonder kan kook. Verál in die winter, wanneer ons so graag 'n geurige kasserol of stomende bredie maak. Of 'n groot bak romerige fynaartappel. Of 'n bottersous by seekos ...

Lamskenkelskywe met knoffel

Onthou dat skenkelskywe baie been het - 1 kg sal dus net genoeg wees vir ses mense.

1 kg lamskenkelskywe

4 knoffelhuisies, fyn gedruk

30 ml olyfolie

2 heel knoffelbolle, middeldeur gesny

Handvol vars tiemie

375 ml witwyn (soos Chardonnay)

375 ml port

45 ml botter, in klein stukkies gesny

Voorverhit die oond tot 160 °C. Vryf die skenkelskywe goed met die fyngedrukte knoffel in. Verhit die olyfolie in 'n swaarboompot en braai die skenkels in lotte bruin. Skep uit in 'n kasserolbak. Druk die knoffelbolle en tiemietakkies tussen-in en giet die witwyn en port oor. Bedek met 'n dubbele laag foelie en bak vir 2 uur tot die skenkels lekker sag is. Haal die foelie af, stip met botter en roer deur. Bak die skenkels oop vir nog ongeveer 45 minute tot die sous afgekook en die vleis mooi bruin is. Sit voor met romerige fynaartappel en groente.

Genoeg vir ses mense.

Kaas-en-knoffelbrood

Maak diagonale snye in 'n middelslag Franse brood (moenie dwarsdeur sny nie). Meng 125 g sagte botter, 2 fyngedrukte knoffelhuisies, 1 ml sout, 1 ml vars gemaalde swartpeper, 125 ml fyngerasperde, beleë cheddar en 60 ml gekapte vars pietersielie goed saam. Smeer tussen die snye van die brood. Draai in foelie toe en bak vir 15 minute teen 200 °C. Haal die foelie af en bak vir 5 minute tot bros. Genoeg vir vier mense.

MEER OOR KNOFFEL

Koop altyd ferm, wit knoffelbolle wat goed droog is. Druk die knoffelbol liggies in jou hand. As dit vars is, sal dit ferm bly. 'n Ou knoffelbol sal uitmekaarbreek en die huisies binne-in sal nie meer plomp en wit wees nie.

Knoffel word nie verniet 'n "superkos" genoem nie. Dit het wél medisinale eienskappe en help om die groei van sekere bakterieë en swamme te stuit. Daar word ook geglo (en daar is reeds toetse gedoen wat dit bewys) dat knoffel help om bloeddruk te verlaag en uiteraard ook 'n rol speel om die risiko vir hartsiektes en beroerte te help verminder.

Knoffelbolle sal lank hou as jy dit reg bêre (in 'n koel, droë plek soos vir uie en aartappels). Gekapte of geskilde knoffel kan in die yskas onder 'n lagie olie in 'n lugdigte houer gebêre word.

Maak die lekkersteynaartappel. Sny 'n knoffelbol middeldeur, bedruip met olie en draai goed in foelie toe. Bak vir 20 minute teen 180 °C tot die knoffel baie sag is. Druk die puree uit die huisies en roer dit by botterige fynaartappel in. Geur verder met 'n bietjie gerasperde parmesaankaas.

As jy knoffel vermy oor die nagevolge, laat jy verniet weg. Kou eenvoudig 'n takkie of twee pietersielie en die probleem is opgelos.

Aioli

Dié sous is onoortreflik saam met seekos.

4 knoffelhuisies, fyn gedruk

2 ml sout

1 groot eiergeel

250 ml olie

30 ml vars suurlemoensap

Witpeper na smaak (opsioneel)

Druk die knoffel verder fyn saam met die sout. Klits die eiergeel hierby in tot goed gemeng. Terwyl jy klits, voeg 60 ml van die olie drupsgewys by, en dan die suurlemoensap op dieselfde manier. (Die sous sal begin verdik en ligter in kleur word.) Klits nou die res van die olie ook bietjie vir bietjie by. Hou aan klits tot die sous glad en dik (soos mayonnaise) is. Geur na smaak met peper (of nog 'n bietjie sout of suurlemoensap). Bedek en bêre in die yskas. Lewer ongeveer 280 ml aioli.

Landbouweekblad, 1 Junie 2007

Rotasie blok

 
5