|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Om 'n skoolkosblik vol voedsame kos te maak waarvoor kinders nié hul neus optrek nie is vir die meeste ma's 'n daaglikse uitdaging. Volg ons riglyne vir kinder-vriendelike kosblikke en hulle sal nie kan wag vir pousetyd nie!
Beplan goed
Dikwels word die kinders se pousekos afgeskeep omdat dit die oggend voor skool vinnig bymekaargegooi word. Beplan oor naweke, of voor jy kruideniersware gaan koop, wat jy elke dag vir hulle gaan inpak en koop daarvolgens. Werk vir elke dag 'n gebalanseerde inpakete uit en sorg dat hulle al die nodige voedingstowwe inneem.
Hou dit interessant en aantreklik
Bied liewer 'n verskeidenheid eetgoed in kleiner porsies aan as 'n hele kosblik vol brood. Kinders hou van interessante kos helderkleurige jellielekkers is 'n beter opsie as sjokolade en 'n muffin of volgraanrolletjie nou en dan gee net die nodige afwisseling van alledaagse toebroodjies. Ryg blokkies kaas en kersietamaties aan stokkies dis vir 'n kind baie lekkerder om dit so te eet, as wat dit los in die kosblik lê. En as jy sukkel met kinders wat nie wil eet by die skool nie, doen 'n bietjie ekstra moeite. Maak hulle kos visueel aantreklik dit sal ook keer dat hulle eerder iets by die snoepie wil gaan koop. Druk vorms uit kaassnye of tameletjie of maak sosaties van kersietamaties, agurkies en kouevleis of frikkadelletjies.
Hier is 'n paar idees vir gesonde toebroodjievulsels:
Grondboontjiebotter en muesliblokkies
Propvol proteïene en vesel.
125 ml klapper
1 blik kondensmelk
750 ml geroosterde muesli
250 ml pofrys (Rice Crispies)
60 ml heuning
60 ml grondboontjiebotter
60 ml sagte botter
125 ml ongesoute grondbone, gerooster en grof gekap
250 ml versiersuiker
Smeer 'n pan van 200 mm x 300 mm met botter en voer die bodem en kante uit met bakpapier. Sprinkel die helfte van die klapper egalig oor die bodem van die pan. Meng die res van die bestanddele (behalwe die orige klapper) in 'n kastrol en verhit stadig tot kookpunt. Laat prut liggies vir ongeveer 15 minute, terwyl geroer word, tot dik. Skep op die klapper in die pan en versprei egalig. Sprinkel die orige klapper bo-oor en druk dit effens met jou hande op die grondboontjiemengsel vas. Bedek, en verkoel tot ferm. Sny in blokkies. Lewer ongeveer 20 blokkies.
Lekkergoed
Sit nou en dan 'n lekkerny in, maar probeer om dit so gesond moontlik te hou. Die meeste lekkers is gelaai met suiker en vet, maar daar is tog 'n paar meer gesonde opsies.
Lees etikette en kyk na vet- en suikerinhoud. Waak ook teen kunsmatige kleur- en preserveermiddels in lekkergoed.
Malvalekkers, "wine gums", jelliewurms of 'n paar energielekkers, soos "Super C", nou en dan kan nie skade doen nie.
Pak 'n gesonde ete
Kinders is aktief en het pousekos met proteïene, koolhidrate en vesel nodig wat aan hulle die energie verskaf wat hulle nodig het. Hoe dan gemaak as hulle net in gaskoeldrank en lekkers belang stel? Flous 'n bietjie gee vrugtestafies, neute of jogurt in die plek van lekkers of skyfies, melkdrankies of suiwer vrugtesap in die plek van gaskoeldrank. Gee altyd 'n vrug (of 'n bakkie met vrugtestukkies) saam. Die meeste kinders het suikertande, maar probeer om dit op 'n gesonde manier te bevredig. Bak hawermoutkoekies of neutestafies en pak dit in skool toe, in die plek van gekoopte winkelkoekies of lekkers.
Kosblikke
Koop 'n duursame plastiekkosblik met kompartemente (of aparte klein bakkies vir droëvrugte of neute, wat binne-in pas) en 'n deksel wat styf pas. Maak seker dit is groot genoeg sodat die hele ete in die kosblik kan pas. Draai broodjies of kouevleis en kaas apart toe in foelie of waspapier.
Onthou die drinkgoed
Kinders moet deur die dag vloeistof inneem. Daar is deesdae klein termoshouers by supermarkte of buitelugwinkels beskikbaar wat koeldrank, water of melkdrankies yskoud sal hou. Andersins, vries hul water of koeldrank oornag in die plastiekbottels wat jy saam met die meeste kosblikke koop. Teen pousetyd behoort dit steeds lekker koud te wees. Suiwer vrugtesap, water of voedsame melkdrankies, soos Milo, is goeie keuses vir die kosblik.
14 Januarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24