|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Uit 'n reeks streekvergaderings wat onlangs in die graanproduksiegebiede gehou is, blyk dit dat die meeste boere gewillig is om 30 % van hul mielies uit die mark te verwyder om 'n beter prys vir die oorblywende 70 % te kry.
Mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, sê produsente het sover, met enkele uitsonderings, hul volle steun verleen aan die plan om hierdie mielievoorraad uit die mark te hou vir toekomstige verbruik in 'n etanolbedryf in Suid-Afrika. Daar is nog heelwat werk wat gedoen moet word rondom die beleidsomgewing en Graan SA is versigtig om nie enige waarborge te gee nie.
Botma sê wat wel 'n werklikheid is, is die feit dat daar teen middel Maart 'n geskrewe onderneming van graanboere verkry sal moet word dat hulle bereid sal wees om ten minste 30 % van die huidige seisoen se produksie te laat isoleer voor daar met die uitvoering van die plan gevorder kan word. "Geen aksie kan werk as boere dit nie steun nie."
Volgens Graan SA is daar ook gesprekke gevoer met die belangrikste finansieringsinstellings oor finansiering en kredietverskaffing in die komende seisoen. Hulle word gevra om nie hul regte ten opsigte van die 30 % produksie streng uit te oefen nie. "Hierdie instansies is bewus van die probleem en ondersteun Graan SA in die soeke na oplossings vir die krisis," het Botma gesê.
Soortgelyke gesprekke is met landbou-ondernemings en silo-eienaars gevoer oor reëlings met die koste verbonde aan die opberging van die voorraad. In alle gevalle was die ondersteuning en samewerking bemoedigend.
Die groot uitdaging vir die krisis in die graanbedryf is om 'n oplossing op kort termyn te vind vir die lae prys van mielies aan die een kant en om die nodige tariefbeskerming vir die koringbedryf aan die ander kant te beding.
25 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24