|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB) ondersoek tans 'n alternatiewe stelsel om gehalte in die bedryf te verseker. Die huidige stelsel fokus op eindpuntinspeksie, wat heelwat kos en tydrowend is.
Nagenoeg 245 personeellede hanteer 200 produkte by 3 691 dienspunte regoor die land. Die PPECB wys daarop dat dit hom 72 % (R77 miljoen) van sy begroting vanjaar gekos het om sy inspeksies by produsente uit te voer.
Die alternatiewe stelsel sal op die bestuur van produkgehalte fokus. Dit gaan onder meer behels dat pakhuise en produsente verskeie beginsels en stelsels ten opsigte van gehalte sal moet handhaaf om dieselfde uitset as die huidige stelsel te verseker.
Dié beoogde ontwikkeling het aan die lig gekom toe mnr. Neels Hubinger, hoof uitvoerende beampte van die PPECB, op die voorlegging van die organisasie se jaarverslag in die parlement hieroor verslag gedoen het.
Volgens hom is die beginsels van so 'n stelsel nie onbekend vir pakhuise nie en is daar reeds 'n goeie grondslag in Suid-Afrika om na die gehaltebestuurstelsel om te skakel. Hy sê dat daar al 'n hele paar jaar 'n behoefte hieraan bestaan.
Lede van die PPECB het vanjaar in Junie saam met amptenare van die Departement van Landbou en lede van vrugteprodusente-organisasies Amerika besoek waar dié stelsel al tien jaar lank gebruik word.
Daar word beoog om die stelsel volgende jaar in Suid-Afrika in werking te stel. Vir boere beteken dit onder meer die aanvaarding van gehalte teen 'n laer prys vir die inspeksiesertifikaat. 'n Ouditdiens sal ook glo minder kos as die huidige inspeksiediens.
Volgens Hubinger sal die nuwe stelsel baie omsigtig geïmplementeer moet word.
Lede van die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake is egter bekommerd oor die risiko's verbonde aan die omskakeling na die nuwe stelsel. Hulle vrees dat personeel verminder sal word en dat self-inspeksies tot misbruik sal lei. Hierop het Hubinger gesê personeel wat tans eindpuntinspeksies doen, sal dan hoofsaaklik hul kennis oordra en opkomende boere oplei.
Oor die misbruik van die stelsel het hy beklemtoon dat dit belangrik sou wees vir produsente om te besef die land se beeld geskaad kan word deur die goedkeuring van swakker produkte en dat dit rampspoedig sal wees om die stelsel te misbruik.
Die PPECB is ook deur die komitee vir landbou en grondsake oor die transformasie van sy direksie bevraagteken en versoek om dit demografies verteenwoordigend van Suid-Afrika te maak nie net die Wes-Kaap nie.
11 November 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24