|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
In groot dele van die Noord-Kaap (Loeriesfontein, Brandvlei, Williston en Calvinia) duur die droogte voort. Die Regering se droogtehulpskema wat November verlede jaar begin het, is steeds van krag, maar boere ontvang sedert April net 'n klein deel van die geld uit dié skema.
Volgens mnr. Henk van Wyk, voorsitter van die Calvinia Landbou-unie, het die Calviniadistrik vir April maar R600 000 van die R2 miljoen wat hulle vir voeraankope geëis het, gekry. Boere van Loeriesfontein en Williston het nog niks gekry nie.
Die somerreëngebiede het die afgelope twee jaar nog geen reën gekry nie. Hoewel dit in die winterreëngebiede gereën het, is daar nie dadelik voer nie.
Volgens mnr. Henk Agenbach, bestuurder van Wes-Karoo Koöperasie op Calvinia, kan boere se skuld as gevolg van die droogte op soveel as R1,6 miljoen gereken word. Daarby moet rentekoste van meer as R20 000 per maand getel word. Omdat hulle so seker was dat hulle hul geld sou terugkry, het Wes-Karoo Koöperasie voorkeur-rentekoerse aan boere gee. "Nou staar die implikasies van moontlike slegte skuld ons in die gesig."
Hul grootste probleme lê nog voor, sê Agenbach. "Sedert die begin van die droogte is die veestapel rondom Calvinia, Nieuwoudtville en Brandvlei reeds met sowat 30 % tot 40 % van 'n moontlike 260 000 teeldiere verminder."
Onder gewone boerdery-toestande is die Hantam-Karoo 'n bestendige boerderystreek, met boere wat finansieel besonder konserwatief is. Nou, sê Agenbach, is daar heelparty sterk boere wat sukkel. "Daar is boere wat gewoonlik elke maand hul koöperasierekening betaal en altyd geld in die bank het wat nou dringend krediet nodig het. Dit is dikwels boere wat dan reeds hul limiet by die handelsbank bereik het."
Daar is verwagtinge by boere geskep toe daar teen die einde van die vorige skema aangekondig is dat dit verleng sou word, sê mnr. Bossie de Vries, voorsitter van die boerevereniging Brandvlei. "Talle boere het hul besluitneming daarop gebaseer en nou is hulle in die moeilikheid."
De Vries sê daar is 13 plase naby Brandvlei in die mark - 'n situasie wat vyf jaar gelede ongehoord sou wees. Die eienaars is hoofsaaklik ouer boere wat nie meer kans sien vir droogte en ongediertes nie.
Daar is ook heelwat boere, soos die 24 opkomende boere wat twee jaar gelede op Brandvlei se dorpsmeent begin boer het, wat dit nie verder kan bekostig om voer te koop nie. Volgens De Vries is hulle uitgelewer aan die noodlot en kan hulle bloot wag en kyk wat van hulle vee oor is as toestande verbeter. "Van dié boere is by omdraai verby. Dit gaan só sleg dat hulle nie weer kan begin nie."
Die droogte het die groot getalle kontrakwerkers in die omgewing van 'n inkomste ontneem. Dit is omdat daar net nie geld is vir werk, soos draadspan en damme bou, nie.
Ingevolge 'n droogtehulpskema wat verlede jaar in die Noord-Kaap op die been gebring is, het die Tesourie R46 miljoen toegeken vir 'n droogtehulpsubsidie van November tot Maart. Toe toestande teen Maart nog nie verbeter het nie, is aansoek gedoen om die skema te verleng.
Mnr. Thabo Mothibi, woordvoerder van die Noord-Kaapse minister van landbou en grondsake, sê hulle het by die Departement van Finansies aansoek gedoen om 'n verdere R63 miljoen vir April tot Augustus. "Ons doen alles in ons vermoë om die Tesourie te oortuig van die dringendheid van die situasie omdat dié boere in 'n ernstige verknorsing is en onmiddellik hulp nodig het."
13 Augustus 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24