|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Agri Wes-Kaap het beweringe ten sterkste verwerp dat boere van Rawsonville 'n plaaswerker verkrag en haar vriend aangerand het. Die vereniging het terselfdertyd 'n beroep gedoen op die provinsiale ministers van landbou en gemeenskapveiligheid om die aangeleentheid op die hoogste vlak te ondersoek.
In 'n verslag wat Agri Wes-Kaap aan Landbouweekblad oor die beweerde voorvalle oorhandig het, is die beserings van 'n plaaswerker aan 'n pypkar-ongeluk toegeskryf en daarin is bevind dat die klag van verkragting nie waar is nie.
Tydens 'n mediakonferensie op Stellenbosch verlede week het die vakverbond Cosatu en organisasies wat plaaswerkers verteenwoordig beweer dat 'n werker op die plaas Groenvlei in die Rawsonville-distrik glo op 30 April deur vier boere en 'n plaaswerker verkrag is. Haar sestienjarige vriend is glo toe met 'n ystergraaf aangerand, sy hande met sy skoenveters vasgebind en hy is agter aan 'n bakkie vasgemaak en deur 'n rivier gesleep.
Hy was na bewering drie weke lank in 'n koma en het breinskade opgedoen.
Volgens mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, is 'n volledige verslag oor die aangeleentheid saamgestel. Daarin is die beweringe van alle waarheid ontbloot.
"Dit is egter belangrik dat die beweringe die volle pad van die gereg loop," het hy gesê.
Luidens die verslag van Agri Wes-Kaap is die seun beseer toe hy en 'n vriend in sy pypkar gaan hase jaag het. Die voertuig se remme was buite werking en het op 'n draai teen 'n paal gebots. Mtonjeni het toe uitgeval en is beseer.
Oor die verkragting het Agri Wes-Kaap gesê twee vroue is aangehits om te beweer dat hulle ná 'n drinksessie deur die boere verkrag is.
Me. Fatima Shabodien, van Women on Farms het na aanleiding van Agri Wes-Kaap se verslag gesê "alles is nog bewerings en ons wil nie mense skuldig vind nie, die gereg moet sy volle pad loop". 'n Massavergadering is deur Cosatu en plaaswerkerorganisasies op Rawsonville beoog, waar 'n plan van aksie teen onder meer die "beskuldigdes" opgestel gaan word.
22 September 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24