|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die opleiding van 'n skaaphond is 'n kuns en verg baie geduld en toewyding. (In die tweede van ons kort reeks verduidelik kenners hoe om 'n hondjie van kleins af te hanteer.)
In die natuur is honde jagters, en hoewel skaaphonde deesdae geteel word om hulle beter met skape te laat werk, moet hulle steeds intensief afgerig word.
'n Jong skaaphond word nie oornag 'n werkhond nie. Dit kan tot 'n jaar, en baie geduld, kos om die hond te leer, maar daar is kortpaaie, sê twee bekende honde-afrigters en mense wat daagliks met skaaphonde werk, mnr. Andrew en me. Pippa Philip van Grootvlei, Caledon.
Dit is altyd beter om 'n geregistreerde hond, wat volgens sy werkvermoë geteel is, te koop. Mense wat hul buurman se ongeregistreerde hond wil koop, moet kyk of sy ouers werk. "Die doel is om 'n werkende hond te kry," sê Andrew.
Tewe begin werk makliker as reuns en sy ondervinding is dat reuns meer hardekoejawel kan wees en die hanteerder aan die begin sal "toets". Tewe sal makliker ingee. Pippa meen dis belangrik dat die voornemende koper sy eie persoonlikheid ken en 'n hond daarvolgens kies.
Die Philips teel slegs op aanvraag en verkoop nie skaaphonde as troeteldiere nie. Hulle keur die eienaars.
Volgens Pippa teel hulle ook net van beproefde kombinasies. "As ons sien die hondjie vertoon nie 'n goeie werksvermoë nie, sal ons die betrokke lyn onmiddellik staak."
Skaaphondjies word op agt weke as hulle gespeen en ingeënt is verkoop. Die leerproses begin as die nuwe eienaar die hondjie kry. Volgens die Philips weet so 'n hondjie niks. "Alles wat 'n hond doen, leer hy van iets of iemand. In 'n trop wilde honde leer hy eers van sy ma, dan van die leier, maar nou moet die hanteerder dié plekke volstaan."
Voordat 'n hondjie by skape gebring kan word, moet 'n vennootskap van respek en vertroue tussen hom en sy hanteerder gevestig word.
"Die hond is nie die hanteerder se slaaf nie. Domineer deur respek en die hond sal bereid wees om enigiets vir jou te doen."
Aangesien daar so 'n groot verskil is tussen 'n hond wat "groot word" en een wat "grootgemaak word", is die eerste ses tot nege maande baie belangrik.
Een van die belangrikste dinge wat enigiemand wat met skaaphonde werk, moet onthou, is dat die hond nooit verkeerd is nie. "Die hond weet nie wat reg of verkeerd is nie," sê Andrew.
Niemand het regtig tyd om heeldag met die hondjie deur te bring nie, maar gedurende die eerste ses maande is dit belangrik dat die hanteerder 'n verhouding met die hondjie opbou deur minstens een maal per dag aandag te gee.
Volgens die Philips moet mense besef dat die hond die hanteerder se aandag nodig het en nie dié van kinders nie. "Ander mense kan wel vriende met die hond wees, dit kos en aandag gee, maar die dissipline kom van die begin af van die hanteerder."
Boere koop dikwels 'n skaaphondjie en hoop dat dit hul kinders sal vermaak én skaapwerk doen, maar Pippa waarsku dat kinders goed is om honde te vermaak, maar die hanteerder se werk bemoeilik.
Volgens haar kan kinders wel met die hondjie speel "voordat die hondjie met sy streke begin". Die probleem is dat kinders só geheg raak daaraan dat hulle nie later verstaan as net die hanteerder met die hondjie mag werk nie.
"Dissiplinering moet passief wees, nie gedwonge nie," sê Andrew. "As die hondjie byvoorbeeld op 'n plek is waar hy nie mag wees nie, vat hom uit en sê ferm `nee'."
Hondjies leer deur assosiasie. Die manier om 'n hondjie te leer, is om 'n "grens" in sy kop te trek. 'n Opdrag word herhaaldelik gegee saam met 'n spesifieke optrede, byvoorbeeld om te kniel, die hondjie se stertkant af te druk en sê "sit". Dit gaan tyd kos en moet meer as een keer per dag herhaal word totdat die hond skielik op 'n dag die "grens" respekteer.
Die herhaling van bevele gekoppel aan dit wat die hanteerder wil hê die hondjie moet doen, is belangrik. As die hondjie na die hanteerder begin kom, moet sy rug ferm afgedruk word met 'n ferm "sit" of "lê". Later reageer hy op die woord "sit" sonder dat aan hom geraak word.
Die Philips sê die hanteerder moet net kort bevele gee, byvoorbeeld "sit", en nie lang sinne, soos "kom nou, Vlekkie, sit", met die hondjie praat nie.
Op so drie tot vyf maande begin die hondjie verander: Dit ontwikkel 'n wil van sy eie en word onafhankliker. Die hondjie begin sy hanteerder toets die beste tyd om "afstandbeheer" te leer.
'n Gevlegte nylontou van sowat 10 m wat losserig met 'n glipknoop om die hondjie se nek vasgemaak word sodat die hondjie van 'n afstand beheer kan word, is een van die kortpaaie by die afrigting van skaaphonde.
In plaas daarvan dat die hanteerder kwaad word as die hondjie ongehoorsaam is, hom jaag en probeer vang, kan die hanteerder op 'n afstand die tou in die hand neem en kniel. "Gee die tou net een pluk en roep die hond se naam," sê Andrew. "Los dan die tou en gee die hond 'n kans om reg te reageer. As die hond iets verkeerd doen, moet die hanteerder die daad onplesierig vir die hondjie maak (nie seer nie) en as dit iets reg doen, moet dit die geleentheid gegun word om aan te gaan met dit wat dit doen.
Volgens Pippa is dit die beste om die toutjie vroeg al aan te sit sodat die hondjie daarmee rondhardloop en daaraan gewoond raak. Die toutjie word gebruik van die eerste keer dat die hondjie nie luister nie.
Andrew se pa, Ron, het altyd na die slagtande gekyk om te bepaal of 'n nuwe hondjie gereed is om met "skaap-lesse" te begin. As die nuwe slagtande op 5 maande tot 6 maande uitkom, beteken dit die hondjie raak volwasse (wilde honde sou dan begin jag het).
Sy pa het 'n hondjie eers na die leë kraal gebring om hom aan die reuke gewoond te maak.
Andrew sê 'n mens kan reeds in die grootmaakstadium die hondjie in die bakkie saamneem liefs in die kajuit ter wille van veiligheid. Die hondjie moet egter nooit op die bakkie gelos word as skaapwerk gedoen word nie. Dit maak die hondjie 'n "bakkie-hond", wat op die bakkie op en af hardloop, en leer hom nie om skape op die grond te werk nie.
"As ons die hondjie vir die eerste keer by die skape bring, wil ons hê dat die hond se jagtersinstink wakker gemaak word. As 'n hond nie skape wil jag nie, stel dit moontlik nie in skape belang nie, en sal dit moeilik 'n werkende hond word."
Tog, waarsku die Philips, is daar honde wat langer neem om volwasse te raak. Sommige honde begin eers op nege maande in skape belang stel. Hulle stel voor dat sulke hondjies gereeld na die vee gebring word met die hoop dat hulle mettertyd sal belang stel. Die hanteerder moet dan die skape "aanval" om die hond te wys hoe dit gedoen moet word.
'n Jong hondjie lees die lyftaal van sy hanteerder. As die hanteerder dus self nie verstaan hoe skape reageer en dink nie, gaan dit moeilik wees om die hondjie reg te leer, sê Andrew.
Die kans is goed dat die eerste keer wat die hondjie by die skape gebring word, alles in chaos begin, maar ook hiervoor is daar raad.
'n Jong hond se "skaap-lesse" is makliker as dit in 'n klein kraaltjie begin. As die hond te vroeg in 'n té groot kamp geleer word, kan sy selfvertroue geknou word omdat alles baie vinnig gebeur en dit vir die hanteerder moeilik kan wees om betyds aan 'n situasie aandag te gee. Die kraaltjie kan rond, vierkantig of reghoekig wees, en hoogstens 20 m x 20 m of 20 m x 30 m.
Pippa sê 'n mens begin met 'n klein oppervlakte om beheer oor die hond én die skape te behou, die skape te verdedig en hond aan te moedig. "Die hanteerder moet maklik tussen die hond en die skape kan kom en maklik van een kant na die ander kan hardloop."
Verdere praktiese raad van Andrew om die hondjie se eerste ondervinding van skaapwerk makliker te maak, is om so vyf ou ooie te gebruik. "Moenie ramme, ooie met lammers of jong speenlammers gebruik nie."
'n Skaap se natuurlike verdedigingstaktiek is om na die hond te kyk en sy voet te stamp. Dit maak die hondjie onseker en die hondjie kan gou leer om weg te bly. Die hanteerder moet ook hier intree en die hond help deur met sy lyftaal die hond te laat verstaan hy kán die skape hanteer.
As 'n ongeleerde hondjie per ongeluk tussen die skape kom, moet die hanteerder hom probeer vang sonder om hom bang te maak. "Onthou, die hond was nie verkeerd nie. Dis jou skuld dat hy daar was." Eweneens is probleemhonde die hanteerder se fout.
Kortliks is die hele idee om die hondjie te leer om agterom die skape te beweeg en die skape na die hanteerder te bring en dan te gaan lê.
Om met 'n hond skaapwerk te doen, is 'n dinamiese situasie, sê Andrew. "Die hanteerder moet antisipeer wat die skape gaan doen, en die hond daarvolgens leiding gee."
Skotse Skaaphonde is natuurlike keerders, maar hulle moet gewys word hoe om dit reg te doen voordat hulle geleer word om skape aan te jaag.
Pippa sê hoewel dit na 'n maklike uitweg lyk, is dit nie raadsaam om 'n ou hond te gebruik om 'n jong hond te leer nie. "Dit kan 'n jag-situasie veroorsaak. Die jong hond dink die ou hond jag en op die ou end leer hy om die ou hond te "werk", in plaas van die skape. In só 'n situasie word die ou hond die tropleier, terwyl die hanteerder veronderstel is om die leier te wees. As die ou hond dan weggeneem word, weet die jong hond nie wat om te doen nie."
Die artikel beskryf slegs die mees basiese beginsels. Mense wat meer wil weet, kan die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging se omvattende boekie en video bestel van: Die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging, Posbus 757, Volksrust 2470; tel. 017 735 1844; of e-pos sasda@telkomsa.net.
Kyk na gesondheid, veiligheid
'n Skaaphond is 'n belegging. Daarbenewens kan só 'n hond tien jaar lank 'n betroubare plaaswerker wees. Daarom is dit belangrik dat die hond veilig is, skuiling teen die elemente het, reg eet en gesond gehou word.
'n Nuwe hondjie moet 'n hok van sowat 2 m x 4 m, met 'n stewige draadomheining, hê sodat dit nie kan oorspring of onder die draad deurkruip nie. In die hok, soos op die foto hiernaas, moet hy skuiling teen hitte en koue hê.
Aangesien baie hondjies in die hoenderhok amok maak of op die plaaswerf doodgery word, moet hulle veilig en uit die moeilikheid gehou word.
Jong honde moet taamlik geïsoleer word. Hulle moet nie ander honde sien nie. Die belangrikste rede vir dié isolasie is dat die hanteerder die middelpunt van die hond se lewe moet wees. Daar moet vertroue en respek tussen hulle opgebou word. Die hanteerder moet die een wees wat die lekker dinge doen.
Aan die begin gaan 'n klein hondjie heel moontlik baie raas, maar moet geïgnoreer word. Die hond moet leer om alleen te wees. "Dit is soms nodig om die hondjie 'n bietjie skrik te maak as hy raas, deur bloot 'n handvol gruis op die hok te gooi, en ook net terwyl hy raas, en sonder dat hy sien waar die geraas vandaan kom," sê Andrew.
Die hok moet op 'n plek wees waar die hond nie skape kan sien nie, dit is die plek waar hy "afgeskakel" word. Dit leer ook die hond dat hy altyd net saam met sy hanteerder skaapwerk doen, sê Pippa.
Volgens Pippa is dit baie belangrik om 'n voorkomende dieregesondheidsprogram te volg. Alle hondjies moet op ses weke 'n katgriep-inspuiting kry en op 3, 6 en 12 maande die 6-in-1-inspuiting. In Suid-Afrika vereis dieregesondheidswetgewing dat alle honde in hul eerste sewe maande twee keer teen hondsdolheid ingeënt word. Daarna moet hulle elke drie jaar ingeënt word.
Dit is ook belangrik om skaaphonde teen bosluise te behandel en om hulle wurmvry te hou, veral waar daar kinders op die plaas is. Honde moet elke ses maande teen inwendige parasiete gedoseer word.
Dit is die moeite werd om, veral in die somer, elke dag die hond vinnig te ondersoek vir steekgras in die oë, ore en voete.
Tot op 4 tot 5 maande vreet die hondjie pille vir klein hondjies. Dit werk maklik en is gebalanseerd.
As klein hondjies mieliepap kry, is dit goed as kalsium bygevoeg word.
Groot honde kan net hondepille gevoer word. Honde moet verkieslik in die aand, as hulle klaar gewerk het, kos kry. Dit is belangrik dat daar regdeur die dag vars water beskikbaar is; ook by die kraal in die veld. Honde het al verdrink deurdat hulle water gaan soek en in 'n dam geval het.
Philips sinoniem met skaaphonde
Die Philips van die distrik Caledon is nou verweef met skaaphonde. Andrew se pa, Ron, kan met reg as die "vader" van werkende skaaphonde in Suid-Afrika beskou word. Hy het met skaaphonde op sy plaas naby Burgersdorp gewerk vandat hy in 1945 van die Tweede Wêreldoorlog teruggekeer het, tot net voor sy dood op 80 in 2000.
Hy was twee termyne voorsitter en langer as twintig jaar skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging, het op alle vlakke ook internasionaal deelgeneem aan skaaphondtoernooie en vertonings gelewer op haas elke landbouskou in die land: Tradisies wat die jong Philips met groot entoesiasme voortsit.
Hoewel Andrew met skaaphonde grootgeword en sy vrou ontmoet het toe sy 'n hondjie by sy pa gekoop het, het hy eers in 1980 ernstig met hulle begin werk.
Die res is geskiedenis.
19 Desember 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24