|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
'n Jare lange gesloer met die registrasie van nuwe plaagbeheermiddels kan daartoe lei dat die landbouchemiese bedryf die Registrateur van Wet 36 van 1947 hof toe vat. Dié wet hanteer misstowwe, veevoere en landbou- en veemiddels.
Verskeie lede van die Nematologiese Vereniging van Suider-Afrika (NVSA) het hulle tydens hul simposium in Hazyview ten gunste van so 'n stap uitgespreek. Die plan is dat die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging (Avcasa) dié dapper stap moet neem.
Dit gaan oor klagtes dat die registrateur baie lank neem om nuwe plaagdoders vir registrasie goed te keur. Gevalle is genoem van aansoeke wat reeds twee jaar lank sloer. Mnr. Henk van der Westhuizen, lid van die NVSA, het gesê planne is reeds aan die gang om hof toe te gaan.
Mnr. Kobus Hartman het teen so 'n stap gemaan en gesê Avcasa moet eers weer met die owerhede probeer praat. Mev. Driekie Fourie, voorsitter van die NVSA, het gesê hulle het die registrateur na die simposium genooi sodat hulle met hom kan praat, maar sonder sukses. Nou is 'n regsgeding op die kaarte.
'n Lid het vertel die registrateur het gesê hy sal so 'n stap verwelkom, want hy kry nie samewerking vanuit owerheidskringe nie. Na verneem word, het Avcasa nog nie finaal besluit of hy hof toe gaan nie.
20 Mei 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24