|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit is onwaarskynlik dat Sasol by die vervaardiging van bio-etanol betrokke sal raak omdat dié maatskappy se verwerkingsprosesse nie ruimte daarvoor bied nie.
Mnr. Johann van Rheede, woordvoerder vir Sasol, sê die moontlikheid is al oor jare ondersoek. "Steenkool is goedkoper en daar is nog genoeg daarvan beskikbaar."
Hy sê Sasol volstaan by sy navorsing oor biodiesel uit sojabone. "Daar is bevind dat dit haalbaar is, maar daar is nog nie finaal besluit of met die projek voortgegaan sal word nie. Indien wel, sal dit as 'n bymiddel by gewone diesel gevoeg word."
Dit keer egter geen ander onderneming om met die vervaardiging van etanol uit mielies te begin nie en kenners meen dat daar 'n mark vir 'n goeie produk sal wees.
Mnr. Fanie Brink, adjunk-hoofbestuurder van navorsing en ontwikkeling by Graan SA, sê 'n bio-brandstofmark moet dieselfde kans gegun word om te ontwikkel as wat die ru-oliebedryf en sintetiese bedryf gegun was. "Ons vra nie subsidies nie, maar wel 'n doelbewuste beleid deur die Regering om 'n hernubare brandstofbedryf in Suid-Afrika te ontwikkel." Dit sal gesteun word deur 'n verpligte inmenging van biodiesel en bio-etanol in diesel en petrol, "soos wat wêreldwyd reeds teen 'n ongelooflike tempo plaasvind".
Die gesamentlike implementeringskomitee vir biodiesel, wat al meer as 'n jaar lank aan dié kwessie aandag gee, het ver gevorder met voorstelle aan die Regering. Daardie erkenning moet 'n mens gee, sê Brink. "Ons soek egter nou beweging in die vorm van beleid".
"As ons nie op hierdie terrein begin beweeg nie, gaan ons agter bly. Dit word internasionaal gereguleer omdat die wêreld verplig voel om skoner energie te gebruik. Ons is op die regte pad, ons moet net die wetgewing ingestel kry."
Volgens hom kan bio-etanol maklik aanhaak by die biodiesel-beplanning, wat al ver gevorder het.
Brink sê in Amerika verplig die "Clean Air Act" reeds die inmenging van biobrandstof in gewone brandstof in sekere state. In die Europese Unie is die mikpunte tans die inmeng van 2 % etanol en biodiesel. Dit moet in 2010 tot 5,75 % verhoog.
Kenners reken die kritieke faktor gaan die Regering se standpunt oor mielies wees. Dit sal een of ander tyd amptelik aanvaar moet word dat mielies nie net as stapelvoedsel in die land geproduseer kan word nie. Eintlik kan dit voedselsekuriteit eerder verbeter, want totale graanproduksie kan verhoog word as daar vir bio-brandstof geplant word, is aan Landbouweekblad gesê.
25 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24