|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Suid-Afrikaanse landbou se vermoë om die land volhoubaar van kos en van biobrandstof te voorsien, is een van verskeie kwessies wat in die komende kommersiële landbousensus ondersoek sal word.
Die sensus onder meer as 60 000 boerderye wat vir belasting op toegevoegde waarde of inkomstebelasting geregistreer is, begin op 1 Augustus en die keerdatum vir vraelyste is 31 Mei volgende jaar. Met dié sensus hoop Statistieke Suid-Afrika om onder meer die stand van landbouproduksie, arbeid, besteding en boerderyskuld te bepaal.
Mnr. Moses Mnyaka, bestuurder van landboustatistiek, sê die landbou is een van die groot bydraers tot ekonomiese groei. "Met die nuwe inligting kan uitdagings in die landbou geïdentifiseer word wat kan help om die belange van die landbou en boere op nasionale en provinsiale vlak te bestuur."
Dit help ook met beleidsformulering om onder meer voedselsekerheid te bepaal, die produktiewe benutting van grond te meet, die landbou se bydrae tot die ekonomie te bepaal, ramings oor die bruto binnelandse produk te maak en werksekerheid te hanteer.
Om die net so wyd moontlik te span, het Statistieke SA met 38 kommoditeitsorganisasies en verskeie groothandelgroepe onderhandel om te bepaal wie almal by landbouproduksie betrokke is. Daar is 93 000 eenhede geregistreer teenoor die vorige seisoen se 81 000.
In sowat 60 % van gevalle sal vraelyste regstreeks aan boerderye se boekhouers gestuur word vir finansiële inligting. Ander inligting, soos onder meer plaasgroottes en werkergetalle, sal by boere verkry word.
Mnyaka het 'n beroep op die boerderygemeenskap sowel as die georganiseerde landbou gedoen om hul volle samewerking met die sensus te verleen. Hy sê dit is ongelukkig só dat boere soms hul frustrasies met misdaad en politiek op sensusopnemers uithaal.
Volgens wet word alle sensusinligting streng vertroulik hanteer en kan dit net vir statistiese doeleindes benut word.
Die vorige landbousensus was in 2002 en die eerste resultate van vanjaar se sensus behoort in Junie 2009 beskikbaar te wees.
Landboubweekblad, 3 Augustus 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24