|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die produksie van sitrus reg oor die wêreld is hoër as die vraag daarna. Heelwat aanpassings sal in die volgende vyf jaar in dié bedryf in Suid-Afrika gemaak moet word, het mnr. Arend Venter, voorsitter van die Sitrus Bemarkingsforum gesê.
Venter was een van die sprekers op 'n inligtingsdag wat deur die sitrusnavorsingsentrum van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CRI) op Stellenbosch gehou is. Volgens hom is 45 miljoen kartonhouers sitrus in 1997 in Suid-Afrika geproduseer. Dié getal het tot 75 miljoen in 2004 gestyg en die produksie neem steeds toe.
"Wêreldwyd is markte oorvoorsien en daar is te veel lande in die Suidelike Halfrond wat sitrus produseer. Tans is dit 'n produksiegedrewe bedryf in plaas van 'n bemarkingsgedrewe bedryf. Dit veroorsaak gedwonge besendingverkope."
Venter meen die voorsiening van sitrus aan die markte moet gekonsolideer word. "Voor 1997 was Suid-Afrikaanse sitruspryse gemiddeld 20 % bo dié van mededingende lande. Vandag is dit 10 % tot 15 % onder die gemiddelde pryse wat sitrus van mededingende lande behaal.
"Die keuse is eenvoudig. Konsolideer verkope of die markkragte sal dit namens die bedryf op 'n baie pynliker manier doen," het hy gesê.
Prof. Vaughan Hattingh van die CRI op Stellenbosch sê vooroesbestuur van uitvoersitrus moet drasties verbeter. Sowat 60 % van Suid-Afrikaanse sitrus gaan na lidlande van die Europese Unie (EU). Dit is belangrik dat nóg strenger fitosanitêre maatreëls deur die EU deur uitstaande vooroesbestuur afgeweer word. Veral besmetting deur valskodlingmot moet tot elke prys bestry word.
Volgens hom is doeltreffende vooroesbeheer al wat werklik gedoen kan word teen valskodlingmot. "As nie daarin geslaag gaan word nie, gaan drakoniese uitvoermaatreëls die bedryf inhaal," het Hattingh gewaarsku.
Hy sê daar word tans met Amerika oor sitrusuitvoer onderhandel. Volgens hom word gepoog om die verpligte verkoelingstydperk van 24 dae weer op 22 dae te kry. Die tydperk van 24 dae is ingestel nadat daar vroeër vanjaar lewende larwes van valskodlingmot in lemoene gevind is wat na Amerika gestuur is.
"Die toekoms van die sitrusbedryf is in die hande van die produsente. Alle hang daarvan af hoe doeltreffend hulle hul bestuurspraktyke in veral die stryd teen valskodlingmot kan handhaaf."
21 Oktober 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24