Daar is groot kommer in die wolbedryf omdat skeerders die bedryf verlaat om elders meer geld te verdien.
Mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die NWKB, sê boere kan nie langer R2,50 per skaap betaal nie, want die skeerders gaan soek meer geld in ander beroepe.
Handskeerders verdien ongeveer R6 000 per jaar en masjienskeerders R9 000.
Mnr. Gawie Hugo sê die moontlikheid van minimum lone vir skeerders geniet aandag.
Mnr. Jacob Middel sê die Regering maak dit moeilik vir skeerders van Lesotho om in Suid-Afrika te skeer. Die NWKV moet aandag daaraan gee.
Volgens De Wet word meer as 70% van die wolskape deur Lesotho-burgers geskeer.
Suid-Afrika sal nie minder wol uitvoer nie, al sou die skeersel ook verdubbel, het De Wet gesê. Dit is omdat Suid-Afrika se klimaat nie ideaal vir die dra van wolklere is nie. Sowat 98% van die skeersel word tans uitgevoer. Daarvan gaan ongeveer 60% na Europa.
Besoedeling van wol gee Suid-Afrika tans 'n groot pak slae. Al is dit nie plaaslike wol wat besoedel is nie, maar besoedeling vanuit 'n ander land, kry die hele internasionale wolbedryf dit hotagter. Kopers skaf wol van oral aan en vermeng dit. Dus word die blaam vir besoedeling nie op 'n spesifieke sondebok geplaas nie, maar almal ly daaronder.
Oor die kode vir goeie praktyke wat deur die NWKV bekend gestel is, het De Wet gesê daar is niks nuut vir plaaslike produsente in nie. Hulle gebruik immers nie kinderarbeid of mishandel skape deur Mules se operasie toe te pas nie, praktyke wat deur die kode veroordeel word. Daarom moedig hy boere aan om die dokument, wat eersdaags aan hulle verskaf sal word, te bestudeer en te onderteken waardeur hulle verklaar dat hulle aan die kode sal voldoen.
Landbouweekblad, 4 April 2008