|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Grondeisekommissie het sy regspan opdrag gegee om die moontlikheid te ondersoek om appèl in die Badplaas-saak aan te teken. Dit volg ná 'n beslissing van die Grondeisehof teen die Regering.
In 'n uitspraak deur Regter Antonie Gildenhuys in die Grondeisehof in Randburg, Johannesburg, is die Regering behoorlik gekasty dat hy sy ore uitleen aan skinderstories en gevolglik 'n regsaak daarop wil bou. Die kruks van die saak is dat die Regering ter elfder uur transaksies met grondeienaars in Badplaas-omgewing, Mpumalanga, wou beëindig nadat dit aan hom genoem is dat die prys wat hy vir die koop van die grond sou betaal het, moontlik kunsmatig verhoog is. Die aankope sou deel vorm van die Regering se restitusieprogram. Die hof het gelas die Regering moet met die transaksie voortgaan.
Volgens mnr. Hilgard Matthews, woordvoerder van mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, word 'n regsmening nou ingewin om vas te stel of die kommissie teen die uitspraak behoort te appelleer. Matthews sê die uitspraak, wat einde Junie gelewer is, word steeds bestudeer. "As ons appelleer, is dit vanselfsprekend dat ons nie sal voortgaan om die plase te koop nie," het hy gesê.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se adviseur vir regs- en grondsake, sê in 'n verklaring dit is kommerwekkend dat die Minister van Landbou en haar amptenare uitlatings maak oor kunsmatige verhoogde grondpryse sonder om seker te maak van die feite. Crosby sê dit is selfs meer kommerwekkend "dat die Regering skynbaar belangrike beleidsbesluite maak op sterkte van sulke verkeerde inligting".
Intussen word aan Landbouweekblad genoem dat mnr. Nceba Nqana, geskorste grondeisekommissaris in Mpumalanga, bedank het. Dit volg na bewering op sy skuldigbevindig op aanklagte van onder meer wanbesteding van staatsgeld. Gwanya was teen druktyd nie beskikbaar om dié bewerings te bevestig nie.
2 September 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24