|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Duisende hektaar staatsbeheerde bosbou-plantasies is in die proses om deur die Regering aan gemeenskappe in verskeie dele van die land oorgedra te word.
Volgens die Departement van Waterwese en Bosbou gaan sowat 26 000 hektaar die grootste oorblywende plantasies wat nog deur die staat bestuur word aan gemeenskappe in KwaZulu-Natal oorgedra word.
'n Ooreenkoms is reeds bereik vir die oordrag van operasionele bates, insluitende bestaande timmerhout aan die Mbazwana- en Manzengwenya-gemeenskap in KwaZulu-Natal. Ander begunstigdes in die transaksie behels die Ingonyama Trust en gemeenskappe van drie tradisionele owerhede in die provinsie.
Me. Lindiwe Hendricks, Minister van Waterwese en Bosbou, het in die Parlement verduidelik dat haar departement reeds sowat 98 000 hektaar inheemse bosbouplantasies van die Knysna-woude aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) in die Suid-Kaap oorgedra het.
"Die oordrag van die woude aan Sanparke bevoordeel reeds die omliggende gemeenskappe. Die woude het ten tyde van die oordrag 'n inkomste van tot R15 miljoen 'n jaar gegenereer," het sy gesê.
Sy wys daarop dat die departement ingevolge 'n besluit van die Kabinet 'n samewerkingsooreenkoms met die Departement van Openbare Ondernemings gesluit het om sowat 6 000 ha kommersiële bosbouplantasies vir gemeenskapsbosbou oor te dra.
Luidens die ministerie gaan die oordrag van inheemse plantasies in die laeveld van Mpumalanga en die Oos-Kaap te midde van vertragings teen die einde van die betrokke boekjaar voltooi wees.
Volgens Hendricks is die oordrag van die bestuur van die Dukuduku-woud in KwaZulu-Natal deur die Departement van Waterwese en Bosbou aan die Groter St Lucia Vleilandgebied ook nog nie afgehandel nie.
21 Julie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24