|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Te min geld en 'n gebrek aan administratiewe vermoë is die eintlike redes waarom grondhervorming stadig verloop, nie die sogenaamde onwilligheid van boere en hoë grondpryse wat deur die Regering as redes aangevoer word nie, het mnr. Pieter Meyer, voorsitter van Agri Noordwes, op sy organisasie se jaarkongres op Rustenburg gesê.
Die beginsel van gewillige verkoper en gewillige koper is tans onder druk weens uitsprake uit die grondberaad wat in Julie plaasgevind het. Die georganiseerde landbou meen egter steeds dit is die regte beginsel om grond aan swart boere oor te dra.
Meyer sê boere is bereid om te help om 'n meer gebalanseerde bedeling in die landbou te bereik. "Ons vra egter besluite wat voedselsekuriteit op lang termyn sal verseker en welvaart vermeerder, pleks van net te verdeel," het hy gesê.
Mnr. Blessing Mphela, grondeisekommissaris vir Noordwes en Gauteng, sê dit is nie goed genoeg om net grond uit te deel en vir die nuwe eienaars om dit te besit en dit nie te benut nie. "Dit sal nie volhoubaar wees nie. Die nuwe eienaars moet hul eienaarskap ernstig opneem en nuwe vaardighede aanleer sodat hulle die grond produktief kan gebruik."
Prof. Willie Esterhuyse van die Universiteit van Stellenbosch sê as 'n mens nie produktief is nie, slaag hy nie is sy doel nie. Grondbesit gaan op die lang termyn nie meer die belangrikste oogmerk van swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) wees nie, maar eerder aspekte soos deel in risiko, oordra van vaardighede en toegang tot geleenthede.
Mnr. Hans van der Merwe, hoof uitvoerende beampte van Agri SA, sê dit pla hom dat die mense wat op die grondberaad gesê het die beginsel van gewillige verkoper en gewillige koper is nie goed genoeg nie, in gebreke gebly het om 'n alternatiewe plan voor te stel. "Dit is jammer boere kry die skuld dat hulle onwillig is om met grondhervorming saam te werk. Die tyd vir retoriek is verby en planne is nodig wat kan slaag."
16 September 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24