|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Enige stremming wat nadelig is vir mielies, kan baardverskyning en stuifmeelstorting sodanig beïnvloed dat dit bestuiwing en pitvorming benadeel. Dit lei tot 'n swakker opbrengs.
By mielies is die natuurlike afsterwing van die baard die grootste oorsaak van swak bestuiwing indien dit nie gou genoeg stuifmeel ontvang nadat dit verskyn het nie.
Mnr. Jéan du Plessis, 'n senior navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Graangewasse (IGG), het gesê die mielieplant se blomdele word afsonderlik gedra. Die vroulike deel (kop) is aan die stam en die manlike deel (pluim) aan die bokant van die plant. Stuifmeel word in die pluim gevorm. Wanneer dit vrygestel word, beland dit op die baard van die kop, dit ontkiem en bevrugting vind plaas. Die pitte ontwikkel en 'n vol kop kan aan die einde van die seisoen geoes word.
Elke pluim is in staat om ongeveer 18 miljoen tot 25 miljoen stuifmeelkorrels te produseer: Teen duisend pitte per kop is daar dus 25 000 stuifmeelkorrels vir elke pit. Baie stuifmeel val op die grond of op die blare en gaan verlore. Daar is egter elke dag 13 tot 17 stuifmeelkorrels vir elke baard om bevrugting te laat plaasvind gedurende die vier tot vyf dae wanneer stuifmeel gestort word. Gewoonlik val slegs 15 % van die plant se stuifmeel op sy eie baard die res beland op ander plante.
Nie alle embrio's wat bevrug word, vorm 'n pit nie. Die dowwe en klein ronde pitte (gewoonlik aan die punt van die kop) is voorbeelde hiervan.
Volgens Du Plessis verskyn die baard eerste aan die onderste helfte van die kop en daarna aan die boonste helfte. Die baard word deur die skutblare beskerm, maar moet bokant die skutblare uitgroei om in aanraking met die stuifmeel te kom sodat bestuiwing kan plaasvind.
Die baard is oor sy hele lengte ontvanklik vir stuifmeel. As dele van die baard beskadig word en die baard kan weer by die skutblare uitgroei, is dit weer gereed om stuifmeel te ontvang. Elke pit het sy eie baard. 'n Baard is met klein haartjies bedek wat stuifmeel vasvang as dit op die baard beland. Die baard verskaf die nodige voedingstowwe en vog aan die stuifmeelkorrel om te kan groei en om bevrugting te laat plaasvind.
Optimale bestuiwing vind plaas twee dae nadat die baard by die skutblare uitgekom het. As 'n stuifmeelkorrel op die baard beland, begin dit groei. 'n Stuifmeelbuis beweeg dan deur die opening in die stuifmeelkorrel en dring die haartjie of die baard binne. Die stuifmeelbuis groei na die embriosak onder aan die baard. Bevrugting kan binne 24 uur plaasvind as die toestande gunstig is. Die stuifmeelbuis groei ongeveer 150 mm gedurende die 24 uur wat dit neem om die embriosak te bereik. Nadat bevrugting plaasgevind het, gaan die baard dood.
Veroudering van die baard begin 2 mm tot 3 mm bokant die embriosak, waar die selle platval en verhoed dat die stuifmeelbuis kan deurdring en bevrugting bewerkstellig. Hierdie afsterwe van die baard is 'n proses wat binne 48 uur voltooi kan wees. Natuurlike faktore, soos die normale afsterwe van selle of opeenvolgende dae van aanhoudende swaar reën, kan bevrugting en pitvorming nadelig beïnvloed. Dit gebeur ook in droogtetyd, wanneer daar min stuifmeel beskikbaar is. Die gevolg is swak bestuiwing.
Kultivars verskil ten opsigte van die tempo waarteen die baard uitgestoot word, asook ten opsigte van koplengte. Baardverskyning kan tussen vier en agt dae by verskillende kultivars verskil, sê hy.
Baard- en stuifmeelsinchronisering speel 'n belangrike rol. Die baard kan nog goed bestuif word, maar as stuifmeelstorting by vroeë baardverskyning vertraag word, kan die baard reeds begin afsterf wanneer die stuifmeel gereed is en dan swak bevrugting tot gevolg hê. In die geval van kultivars wat langer neem om baard te stoot, kan die stuifmeel opraak en die boonste dele van die koppe word dan nie bestuif nie.
Du Plessis sê hoë dagtemperature kan veroorsaak dat die baard ophou groei en dat dit slegs groei as die temperature snags en vroegoggend weer gunstig is vir groei.
Groei kan só erg vertraag word dat die baard nie eens by die skutblare uitgroei nie en dan glad nie bestuif word nie. Koplengte speel hier 'n belangrike rol. Die baard van kultivars met kort koppe sal moontlik nog bo die skutblare uitkom en bestuif word.
Kultivars met lang koppe se baard verskyn egter soms nooit bo die skutblare nie. Baardgroei kan deur droogte vertraag word sodat daar min of geen stuifmeel oor is wanneer die baard wel verskyn nie, met die gevolg dat swak bestuiwing plaasvind.
In normale toestande begin suksesvolle bestuiwing reeds twee dae ná baardverskyning afneem. Agt dae later is die sukses net 50 % en twaalf dae later slegs 20 %. Indien die baard nie bestuif word nie, sterf dit ná ses tot tien dae af.
Langdurige temperature bo 32 °C is nadelig vir bestuiwing omdat die baard dan soms temin vog het om ontkieming en groei van die stuifmeelbuis te onderhou. Die stuifmeel kan ook só droog word dat swak of selfs geen bestuiwing plaasvind nie. In sulke gevalle is die embrio self ook te droog en selfs al sou bevrugting plaasvind, ontwikkel die pit net twee tot drie dae lank en sterf dan af. Dit veroorsaak die kenmerkend dowwe pitte. Pitte wat nie genoeg vog het om volledig te ontwikkel nie, word uiteindelik klein ronde pitte wat deur die stroper uitgesif word.
Du Plesses sê enige stremming wat nadelig vir die plant is, kan baardverskyning en stuifmeelstorting sodanig beïnvloed dat dit bestuiwing en pitvorming benadeel. Onder stremming stort die pluim sy stuifmeel 'n paar dae voordat die baard verskyn. Baard wat laat verskyn, kan nie bestuif word nie en gee 'n swakker graanopbrengs.
Die min vog in die baard veroorsaak ook dat die groei van die stuifmeelbuis vertraag word sodat bevrugting eers ná 48 uur of langer kan plaasvind, teenoor die normale ongeveer 24 uur. Vog- of hittestremming kan veroorsaak dat die pit slegs vir 'n paar dae ontwikkel en dan aborteer.
"As insekte wat van plantmateriaal leef in groot getalle voorkom, kan die baard en stuifmeel só verminder dat swak bestuiwing plaasvind."
16 April 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24