|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit is belangrik dat lande wat vrugte in die Suidelike Halfrond produseer, beter saamwerk. As Suid-Afrika byvoorbeeld nouer kan saamwerk met 'n tradisionele mededinger, soos Chili, kan 'n groter bedingingsmag verkry word om vrugte in die Noordelike Halfrond te bemark.
Mnr. Stuart Symington, hoof uitvoerende beampte van die Vrugte-uitvoerdersforum, het op 'n inligtingsdag van die Sapo-trust op Stellenbosch gesê groter uitvoer van vrugte is nie net in belang van die bedryf nie, maar ook vir die Regering.
"Die rigting van handel moet verander. Die tradisionele markte vir plaaslike vrugte is Europa en Brittanje, maar daar moet nou meer na die Ooste gekyk word veral in die lig van die handelsoorenkomste en protokolle wat met China beding is." Altesame 60 % van Indië se bevolking is vegetariërs, wat voordelig vir Suid-Afrikaanse uitvoer na dié land kan wees.
Daar moet ook daadwerklik na bilaterale handelsooreenkomste gestreef word. Suid-Afrika het hoë invoertariewe, wat gewone handel dikwels bemoeilik.
Symington wys daarop dat markinligting baie belangrik is. "Dit is 'n probleem dat die plaaslike vrugtebedryf dikwels nie genoeg inligting oor neigings aan oorsese klante gee nie en dan reageer dié markte dikwels ongunstig op gerugte."
Volgens hom het die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf te min "bene" in die mark. Mededingers, soos Chili en die Amerikaanse staat Kalifornië, het kantore in ál die lande waarmee hulle handel dryf. Suid-Afrika het nie sulke kantore nie.
Symington sê meer opleiding in die vrugtebedryf is in Suid-Afrika nodig. In Chili word tot 50 000 mense per jaar opgelei, terwyl die syfer in Suid-Afrika steeds baie laag is. "Beter institusionele integrasie is ook nodig in Suid-Afrika tussen die vrugtebedryf, die Regering en diensverskaffers."
Landbouweekblad, 11 Mei 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24