Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê daar kan 'n prysvoordeel vir die graanbedryf wees. As die koers egter net op die kort termyn verswak, sal die prysfluktuasie ook net tydelik wees.
"Dit is steeds belangrik dat markte ten opsigte van vraag en aanbod gebalanseer moet wees omdat dit bepaal of die prys nader aan in- of uitvoerpariteit beweeg."
Mnr. Johan Pienaar, direkteur van ekonomie en handel by Agri SA, sê ongelukkig moet 'n mens ook na die ongunstige aspek kyk. "In die lig van die hoë ru-olieprys kan die verswakking in die rand 'n baie nadelige uitwerking op die prys van diesel hê en dit kan ook tot ander ongunstige gevolge lei."
Hy glo egter dat 'n wisselkoers van R6,50 tot R7,00 vir 'n Amerikaanse dollar 'n beter balans in die landbou sal beteken.
Mnr. Johan Willemse, landbou-ekonoom, sê hoewel daar aanvanklik 'n prysvoordeel vir veral graanboere is omdat mielies, koring en oliesade op invoerpariteit is, sal stygende pryse van produksiemiddele die voordeel mettertyd uitwis. Hy sê die produksiekoste styg nie so vinnig nie, maar sal mettertyd enige prysvoordeel uitwis.
Mnr. Fanie van Rooyen, adjunk hoofbestuurder van Graan SA, sê die moontlikheid van duurder produksiemiddele is 'n groot kwelling. Hy sê sowat 75 % van graanboere se produksiemiddele word ingevoer en die invloed op die dieselprys wek veral kommer.
Hy het onder meer na kunsmis verwys en gesê 80 % van ál die aktiewe bestanddele word ingevoer.
Mnr. Rod Gravelet-Blondin, hoofbestuurder van die landbou-afdeling van die JSE (Safex), sê die swakker rand kan beslis graanpryse beïnvloed, maar dit is nie moontlik om te sê in watter mate nie. "Daar is ander faktore wat ook 'n rol speel, soos gerugte van rypskade, mielies wat te veel reën gekry het en swak gehalte. Dit is nie moontlik om te bepaal in watter mate elk van hierdie faktore 'n rol in die prys speel nie."
Hy sê die prys van wit mielies vir lewering in Julie het verlede Donderdagoggend met R30 tot R1 211/ton gespring. "Die rede daarvoor kan 'n sameloop wees van die swakker rand sowel as die verspreide reën wat die vorige aand oor die produksiegebied geval het. Dit is nie moontlik om te bepaal in watter mate elk van hierdie faktore 'n rol by die prys speel nie."
26 Mei 2006