|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Meer geld is nodig as die Landbounavorsingsraad (LNR) die gewenste resultate wil behaal, sê dr. Shadrack Moephuli, hoof uitvoerende beampte en voorsitter van die LNR.
Hy het aan die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê geldelike toekennings aan die LNR het in die afgelope sewe jaar net effens toegeneem. "Die kwessie van te min geld is nie eiesoortig aan die LNR nie. Dit kan by talle wetenskaplike rade gesien word. Ons is besig om in besonder te kyk of die LNR veral grof ondergefinansier word."
Me. Bongi Ntuli, ANC-LP, sê sedert 1998 wys die LNR se begroting nie veel groei nie. "Hoe gaan die kenners dan gelok en by die LNR behou word?" Mnr. Salam Abram, ANC-LP, sê navorsing bly noodsaaklik veral omdat Suid-Afrika 'n ontwikkelende staat is.
Mnr. Maans Nel, DA-woordvoerder oor grondsake, sê die LNR begin nou doen wat hy in die verlede moes doen. Hy is egter bekommerd oor die oordag van tegnologie tot op grondvlak.
Lede wou onder meer weet wat met die LNR se bate-registrasiestelsel gebeur het. In 2005/'06 het dié liggaam onder meer oor sy tekort aan 'n volledige bate-registrasiestelsel 'n gekwalifiseerde ouditverslag van die Ouditeur-Generaal ontvang. Moephuli sê só 'n stelsel is nou op die been.
Dr. Kraai van Niekerk, DA-woordvoerder oor landbou, wou weet wat met vervalle navorsingsplase, soos Citrusdal, gebeur. "Dié plaas was winsgewend. Nou skud mense maar net hul koppe as hulle die agteruitgang sien."
Moephuli sê dit het onder meer gebeur omdat die LNR nie behoorlike rekord oor bates gehou het nie. Boonop ervaar die navorsingsplase ook uitdagings weens misdaad. In Nelspruit word die oeste byvoorbeeld gesteel en met dit dan die navorsing. By ander navorsingstasies op plase word ingebreek en tegnologiese toerusting gesteel.
Grondeise speel ook 'n rol. Tans word onderhandel dat 'n ander reëling gemaak moet word sodat navorsing ononderbroke kan voortgaan op plase waarop grondeise ingedien is.
Landbouweekblad, 15 Junie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24