Te veel SA wol na China ongesond

 

China koop ongeveer 70% van Australië se wol. Dit beteken dat enige besluit oor wol in China Australië regstreeks raak, wat ongesond vir dié land se wolbedryf is. Die Suid-Afrikaanse wolbedryf moet daarteen waak dat hy nie in dieselfde situasie as die Australiese bedryf beland nie, sê mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die NWKV.

Hy sê sowat 98% van die Suid-Afrikaanse skeersel ter waarde van R1,5 miljard word uitgevoer. Dit gaan nie gou verander nie. Die tradisionele markte is Europa, maar die nuwe wêreldspeler is China. In die stadium gaan daar reeds sowat 26% van die plaaslike skeersel na China, maar daar moet gewaak word dat daar nie meer as 40% van die skeersel na China gaan nie, anders kan Suid-Afrika net so kwesbaar raak soos Australië.

Suid-Afrika is 'n klein belanghebbende in die wolbedryf teen Australië. Selfs al sou die plaaslike skeersel van die mark af verdwyn, sal dit beswaarlik gemis word. Omdat Australië besef hy is die markleier, is daar heelwat nuwe ontwikkelinge, soos VAM (verification Australian wool). Suid-Afrika kan nie meer die Wolmerk gebruik nie en die Australiërs spits hulle ernstig op Europa toe. In Japan word ook 'n toetsbemarkingsprogram deur die Australiese wolbedryf bedryf.

De Wet sê in die laaste ses maande is wol nie meer in 'n vraag-en-aanbod-situasie nie, want die aanbod is nou kleiner en dus prysbepalend. In die volgende jaar of so word 'n afname van een persent in die produksie van wol verwag, wat die vraag na wol — en veral fynwol — behoort te verbeter.

Landbouweekblad, 29 Februarie 2008

0