Die TLU SA sê hy het 'n groep regsfirmas opdrag gegee om boere te help met die instelling van eise teen die staat "weens die eensydige ontneming van mineraalregte". Mense wat nog wil deelneem word gevra om die organisasie dringend te nader.
Mnr. Tinus Taute, bestuurder van die ekonomiese sakekomitee, sê die TLU SA meen dat die ontneming van minerale regte niks minder as onteiening is nie.
Hy sê aanvanklik is beoog om 'n groepsgeding, wat almal sou bevoordeel, voor die verjaringsdatum van 30 April volgende jaar in te stel. Dit kon nie betyds gefinaliseer word nie.
Sowat 300 regslui landwyd sal teen 'n geringe koste grondeienaars met individuele aksies help. Daar is reeds hofsake deur Agri SA, die TLU SA en individuele grondeienaars begin.
Mense wat reeds hul inligting deurgestuur en geld aan die TLU SA oorbetaal het, sal binnekort briewe ontvang oor die opsies wat beskikbaar is. Mense wat nog wil deelneem, kan Taute by die TLU SA se hoofkantoor bel. Die inligting moet die TLU SA voor 28 Februarie volgende jaar bereik.
'n Bedrag van R2 000 moet aan die TLU SA betaal word en die volledige voorwaardes en bepalings is by die hoofkantoor beskikbaar. Die telefoonnommer is 012 804 8031.
Landbouweekblad, 15 Desember 2006