|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Grondhervorming en transformasie het tans ietwat 'vasgehaak'. Dit is omdat die Regering eers self sekere aspekte daarvan, waaronder die Kode vir Goeie Praktyke, deegliker in oënskou wil neem, het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, op 'n inligtingsdag in die Paarl gesê.
Die georganiseerde landbou se dokumente oor volhoubare landbou en transformasie is reeds opgestel. "Die ideaal sal egter wees om eers die grootste moontlike mate van instemming onder alle betrokkenes te verkry voor 'n finale dokument gefinaliseer sal word," het hy gesê.
Volgens Van der Merwe word die moontlikheid ondersoek om die kode só te wysig dat daar 'n onderskeid is tussen groot en klein ondernemings waaronder boerderye. "Dit is onprakties om van 'n enkelboer die eienaar en bestuurder van sy onderneming te verwag om gestand te doen aan die vereistes van die telkaart vir die Kode vir Goeie Praktyke soos dit tans is."
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou, het volgens Van der Merwe begrip vir blanke kommersiële boere. "Aan die ander kant is daar egter 'n historiese siening in die Regering oor hoe swartes in die verlede gemarginaliseer is." Daarom meen sy buigsaamheid is nodig.
"Blanke boere ervaar dit egter dat die landbou uitgesonder word as teiken van die Regering vir transformasie. 'n Sterk sosialistiese ondertoon bestaan weliswaar onder swarte mense wat betref die landbou, maar dit word nie noodwendig deur die senior beleidmakers gesteun nie. Die meeste van hulle steun eerder 'n skikking as 'n totale verandering in die aangesig van die landbou."
Van der Merwe sê dit is nie net die landbou wat druk ondervind om te transformeer nie. "Ander sektore moet ook daaraan gehoor gee, maar wat die landbou anders maak, is dat grond 'n emosionele saak is. Dit is belangrik dat die landbou wel die inisiatief neem wat transformasie betref, anders kan die Regering dit namens hom doen."
Volgens Van der Merwe gaan dit nie net met Suid-Afrikaanse boere broekskeur nie. "Ondanks subsidies gaan dit nie te goed met boere in die Europese Unie, Amerika en Kanada nie. Die verskil is dat die plaaslike kommersiële boere met politieke inmenging ook te doen het."
Hy meen transformasie moet beter bestuur word deur dit op nasionale vlak duideliker af te baken. "Geloofwaardigheid en 'n vertrouensposisie tussen die landbou en Regering is belangrik en moet gehandhaaf word. 'n Stadium moet bereik word waar die landbou graag geraadpleeg wíl word oor aspekte van belang en hom daardeur feitlik onmisbaar maak."
Daar moet egter altyd duidelikheid wees dat slegs ekonomiese doelwitte nagestreef word en nie politieke doelwitte nie. "Al verskil 'n mens met die Regering, is dit belangrik om op die regte manier met hom te verskil," het Van der Merwe gesê.
Volgens hom word Suid-Afrika se mening hoog geag in wêreldwye landbouforums. "Die land veg as 't ware in 'n swaarder liga van lande wat ekonomies die toon in die wêreld aangee."
13 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24