|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Daar sal meer indringend na die rol van trekvoëls, veral wilde eende en ganse, in die verspreiding van voëlgriep gekyk moet word. Dit word wêreldwys reeds aanvaar dat trekvoëls die belangrikste bron van besmetting vir die verspreiding van voëlgriep is.
Só sê dr. Pieter Koen, adjunkdirekteur van dieregesondheid by die Wes-Kaapse departement van landbou. Hy het die jongste inligting oor voëlgriep, wat tot 'n verbod op die uitvoer van volstruisvleis na onder meer die Europese Unie gelei het, op 'n inligtingsdag in Oudtshoorn verskaf.
Volgens hom was die vlak van toetsing vir die siekte in 2004 nie verteenwoordigend genoeg nie en daarom is alle volstruisplase in die Wes-Kaap in Maart en April vanjaar weer getoets. "Dit is gedoen sodat die resultate internasionaal aanvaarbaar sal wees en met die riglyne van die wêreldwye organisasie vir dieregesondheid (OIE) ooreenstem. Dit is reeds afgehandel."
Plase wat verlede jaar met serologiese toetse gemonitor is, is weer getoets. Bloedmonsters is ook op 'n aantal bykomende plase geneem. Die groepe waarvan monsters geneem is, was kuikens tot drie maande oud, slaggroepe van vier tot dertien maande, en volwasse volstruise ouer as 13 maande.
Koen sê verlede jaar was daar op 468 plase monsters geneem. Vanjaar is voëls op 744 plase getoets en amper 38 000 bloedmonsters is geneem en ontleed. Omdat volstruisbloed maklik bederf, moes die monsters dieselfde dag die laboratoriums bereik. Altesame 90 % van die monsters is by die provinsiale laboratorium op Stellenbosch getoets en die res by Onderstepoort. Sowat 5 000 bloedmonsters is per week van gemiddeld 74 plase per week geneem. Daar is op 124 plase sowat 17 % van die plase waarop getoets is teenliggaampies van voëlgriep in volstruise gevind. Teenliggampies teen die voëlgriepvirus is by altesame 95 149 volstruise op hierdie plase gevind.
Koen sê slegs 2,2 % van alle monsters het teenliggaampies getoon en dit het gewissel van 2 % op sommige plase tot soveel as 42 % op ander. Hy meen die verskil in voorkoms op die plase kan dui op óf 'n stadige verspreiding van die siekte óf 'n lae uitdaging deur die virus.
Op die 124 plase met teenliggaampies is meer as 12 000 weefselmonsters geneem in 'n poging om die voëlgriepvirus self te vind. Onderstepoort kon in geen van hierdie monsters die virus vind nie.
Die Departement van Landbou is gevra om sekere beperkings op die beweging van volstruise te heroorweeg. Alle verskuiwings van volstruise uit die Wes-Kaap kan egter steeds net per permit geskied, aldus Koen.
27 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24