Hoe gelukkig kan 'n boer wees? Mnr. Gert Pretorius van Lichtenburg, nasionale Boer van die Jaar, het onlangs sommer twee keer op een dag gehoor hy kan gratis in die buiteland gaan reis.
Eers het hy 'n telefoonoproep gekry oor die nuus dat die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika, wat jaarliks die boer van die jaar aanwys, 'n bykomende borgskap van Same Trekkers gekry het wat die wenner oorsee neem. Pretorius is verlede jaar as 2004 se Boer van die Jaar aangewys. Toe Same besluit om voortaan die boer van die jaar met 'n studiereis te borg, het mnr. Chris Höll, besturende direkteur, besluit om sommer die vorige wenner ook te beloon. Pretorius gaan eersdaags 'n groot landbouskou in Italië bywoon.
En toe kom die tweede gelukskoot op een dag. Tydens 'n dinee van die Droëboneprodusente-organisasie (DPO) in Pretoria is hy as Droëboneprodusent van die Jaar bekroon. Sy prys? 'n Studiereis vir hom en sy vrou, René, geborg deur Syngenta.
René gaan hom ook op die reis in Italië vergesel.
16 September 2005